

UIT DIE MOND
Wanneer Afrikaanse musiek met jou hart praat
Toe die wêreld hier nog jonk was en die horison wyd en oop
Was dit groen hier in die halfrond, suid van die ewenaar
En in die skemer as die son sak en die beeste huis toe loop
Klink die roepstem van die vroue oor die heuwels van die land:
Halala, halala, ewig is ons Afrika
Halala, halala ewig is ons Afrika …
Afrikaans. Die enigste taal ter wêreld wat na ’n kontinent vernoem is. Was daar dan ’n beter liedjie om die Uit die mond-konsert mee te begin as Johannes Kerkorrel se “Halala Afrika”?
Afrikaans 100 se feesvieringe het in die Kaap afgeskop en van 8 Mei tot 11 Mei is daar Afrikaans gepraat, geleef en gejol. Sondagmiddag 11 Mei was Uit die mond vir die tweede keer by Hoërskool Durbanville ná dit ook Saterdagaand die gehoor begogel het.
Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Emo Adams, Lynelle Kenned, Nicole Holm en Frazer Barry is deur ’n orkes met klavier, kitare, tjello en tromme begelei en die konsert het nie net van Afrikaans se gewildste liedjies bevat nie, maar daar is ook gedigte van onder meer Antjie Krog en Adam Small voorgedra. Daar was humor en joligheid, maar ook oomblikke wat jou stom gelaat het oor hoe wyd Afrikaans sy arms kan oop gooi.
Hoe ver het Afrikaanse musiek nie gekom nie! In een konsert is alles gehoor van Doris Brasch se “Die lappop” en Emo se eie weergawe van “Oukraalliedjie” tot Amanda se “Hoor hoe brom die wind” met die refrein wat presies sê wat ons mooie taal is:
En ek kan rock in my taal
Ek maak amok in my taal
Ek kan skok in my taal
Ek kan rock in my taal
My asem gly deur my taal
Ek word verlei deur my taal
En ek kan vry in my taal
Ek kan rock in my taal
Ek maak lawaai in my taal
Ek word so kwaai in my taal
Ek kan jou braai in my taal
En ek kan rock in my taal
By die konserte in die Kaap het die koor van Hoërskool Durbanville saam opgetree en by die konserte in Pretoria sal die koor van Hoërskool Waterkloof te hoor wees. Die impak van ’n koor op enige konsert kan nooit misgekyk word nie en in hierdie geval is dit ook so.
Vir mense in Pretoria en omstreke: moenie hierdie konsert misloop nie. Daar is soveel verrassings en wonderskone oomblikke en sonder om te veel weg te gee, is hierdie ’n konsert wat jy nie sommer weer gaan sien nie. Die konserte in die Kaap is al twee staande toegejuig en met rede.
Uit die mond is op 28 en 29 Mei om 19:30 by die Atterbury Teater in Lynnwood Manor. Goue sirkel-kaartjies is R265 en die res is R200. Bespreek jou kaartjies by seatme.