fbpx

Dis hoe ons óńśé prate in’ie Boesmanland stane praat

 

Die skrywer en storieverteller Elias P. Nel skryf oor hoe Afrikaans in Boesmanland gepraat word en deel sy besondere verwerking van Psalm 8.

Die Boesmanland is ’n ongenaakbare streek met droë vaal eindelose vlaktes en kliprante. In hierdie verlate dorre annerlikgeit is die mense met hul feestelike prate die grootste skat. My geboorteplek, die nedersetting Swartkop (ook Verneukpan genoem), val binne hierdie streek.

My bemoeienis met Boesmanland-Afrikaans is beperk tot Verneukpan, Brandvlei, Kenhardt, Vanwyksvlei en die omliggende plase.

“Die praat is ’n fees vir die oor.”
(Henriette Grové, Beeld – 8 Maart 1999) 

Dit is inderdaad waar want in hierdie streek word daar in die mees fassinerende woorde, beskrywings en idiome land en sand gepraat. Oor die dood, die begrafnis en die misterie van die hiernamaals sal iemand hom/haarself só uitdruk:
Oorle Piet het toe mos sy houtpak gelê-e aantrek. Toe’t hy oener’ie sandkombers geloop lê en toe’t hy mos’ie blou leer geklim.” 

Die oormatige gebruik van werkwoorde kom wel ook in die ander subvariëteite van Gariep-Afrikaans voor. Dis egter of die Boesmanland dit meer beklemtoon.
Toe ek sien toe kom sitte stap hy hier aan” of “Ek lê-e loop solank, julle kom mos”. 

Nog ʼn voorbeeld van die beskrywende taal. Die moeë voetganger sal so ’n rygeleentheid bedel:
“Kan ek’ie assemblief my voete in Meester se mouter koel maak’ie?” 

Hopelik gee my ongepubliseerde verwerking van Psalm 8 ’n beter aanduiding hoe soepel Boesmanland-Afrikaans werklik is. (“Wats” word gebruik om status aan te dui.) 

Psalm 8
Issie mens da ooit wats?
virrie voorman vannie miskante; op allie klas snaarmisieke
’n Psalm van Dawid 

Jirre, onse Jirre hoe vreeslik mooilekker
is U se naam op hierie hele grote aare! 

U’t mos U se groot koniklikgeit
oppie hemel geloop neergelê
ytie monne van U se tjeeners
en okkie ou bawetjies sinne
is U se sterkgeit mos vas oenerie grond gekom ingespit
oor U se tegepertye se ontwille
om daai vyhandte van U
en daai wraakvergellers stil te maak 

as ek só narie hemel sitte tjyk
daais mos als U se vingers se werke
en okkie sterre wat U self ytgeknip’it
da sitte verwonner ek vir my:
issie mens da ooit wats
lat U nog aan hom sitte dink
ennie mens se tjeent
lat U nog vir hom wil kom stane tjyer?
U’t hom mos net ʼn kleine bietjietjies minnerter assie ingele gemaak 

Toe’t U vir hom allie eer en heerlikgeit gestane sjee
enne splinterniewie hoed mette veer in op sy kop gesit
toe’t U hom bo als nog voorman ôk gestane gemaak
om agter U se hannewerk te lope tjyk ennit op te pas
ons praat nou hier van allie skape, bokke ennie beeste
en allie annerlike diere vannie velt
dan’s daar noggie voëltjietjies vannie hemel
die visse innie see wat mettie seepatte langes trek 

ooee Jirre onse Jirre hoe vreeslik mooilekker
is U se heilagge naam hier op hierie hele grote aare! 

Daar is nog vele ander unieke taalverskynsels soos volksetimologie, toutologie ensomeer, maar dit hopelik vir later. 

Hennie Aucamp het hom as volg oor die streekstaal van die Boesmanland uitgespreek:
“… ʼn taal so wild soos ’n riel en uitskopseties en so eerlik soos roosterkoek en ’n karringmelk.”

 (Die Burger, 9 Desember 1998) 

My vurige hartswens is dat ek iewers ’n borgskap sal losslaan om hierdie wilde en eerlike taal volledig op te teken; voordat dit mak en oneerlik word en saam met haar sprekers onder die sandkombers gaan lê.

Lees meer oor Elias P. Nel hier: https://www.litnet.co.za/elias-p-nel-1954/