Haidee Muller-Isaacs
& Toast Coetzer
Karoo-Afrikaans: Só sien ons die taal
Haidee Muller-Isaacs en Toast Coetzer het al twee al diep spore in die joernalistiek getrap. Maar dis nie net ’n talent met woorde wat hulle gemeen het nie, beide is ook kinders uit die Karoo.
Waar lê julle wortels?
Haidee: Ek is op Oudtshoorn in die Klein-Karoo gebore. Het skool voltooi aan Pacaltsdorp Senior Sekondêr op George en is daarna Rhodes toe in die destydse Grahamstad, deesdae Makhanda, waar ek ’n BA-graad behaal het. Toe is ek Stellenbosch toe vir my BPhil in joernalistiek. Ek is tans ’n omroeper en regisseur by RSG en ’n vryskutjoernalis.
Toast: Ek is gebore op Cradock, in 1977, en het eers daar skoolgegaan, maar is later buurdorp toe, Somerset-Oos, waar ek in 1995 gematrikuleer het. Daarna is ek Rhodes-universiteit toe, waar ek ’n B.Journ-graad (Journalism & Media Studies, met Afrikaans-honneurs on the side) voltooi het. Ek is later Kaapstad toe waar ek in 2009 rond ’n MA in kreatiewe skryfwerk voltooi het by die Universiteit van Kaapstad. Ek het nie ’n amptelike titel nie, maar die gelapte hoede wat ek, onder andere, dra, sluit in: reisredakteur van Weg-tydskrif (ek is ook redakteur van ’n paar van ons spesialisgidse, soos Weg Karoo, Weg Botswana en Weg Weskus); mederedakteur van die alternatiewe poetry zine Ons Klyntji; voorprater in die spoken word band The Buckfever Underground; soms DJ as deel van die Unhappy Hour Show-span op Bush Radio 89.5 FM. Ek moonlight ook as toergids en fotografie-tutor – ek doen toere saam met onder andere Heuningland-toere na plekke soos Namibië, die Richtersveld en die Karoo.
Wat is volgens julle Afrikaans se grootste mylpale?
Haidee: My taal gaan net mooi nêrens heen verdwyn nie. Sy klou, pappa.
Dis soos ’n boom wat gedurig nuwe blare kry en daar is selfs nuwe woorde in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) opgeneem. My taal laat my dink aan Psalm 1:3: Soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Toe die doemprofete sê dis die einde, het my taal steeds haar plek met absolute waardigheid volgestaan, onwrikbaar en sterk deur al die stampe en stote. Dis ’n diverse en toeganklike taal met ’n lang, ryk en kleurryke geskiedenis. Sy stap die pad al lank, my lam. Dis ons almal se taal. En tussendeur rock ons in Afrikaans en ons vier fees in Afrikaans.
Toast: Die feit dat daar elke jaar nuwe boeke in Afrikaans gepubliseer word, en nuwe aanlyn woonplekke steeds agter elke handle en URL uitdop (van Instagram tot die goeie ou world wide web…), en dat daar in Afrikaans gefees, gekonferensie, gedig en gesels word – dit is alles pluime in die hoed van Afrikaans.
Wat is jou gunstelingwoord en sêding in Afrikaans?
Haidee: Sjoe, ek is dol oor vier woorde: ginnegaap, skarminkel, swerkater en maaifoedie. My eie gunsteling-sêding? Mag die voorspoed jou verveel.
Toast: Nippertjie is ’n lekker woord. Etenstyd ook. Ek hou van doodgewone sêgoed wat mense sê sonder om twee keer daaroor te dink, byvoorbeeld: Mooi ry, baie dankie, jy lyk goed, dit gaan ’n mooi dag wees, dit lyk na reën, hou moed, wees spaarsamig, veilig bly, ensovoorts.
Wat maak Karoo-Afrikaans spesiaal?
Haidee: Die verskillende dialekte lê my na aan die hart. Die sêgoed is komies en hartverwarmend. As iemand my pa vra hoe dit gaan, dan seg die toppie: Nee-wat, dikgelap, maar skoon. Hoe sou jy dit beter kon stel? Dis ook soms asof ons Karoo-mense ons eie soort Afrikaans praat. En dis lekker. Daar in my hartsplek verwys ons na kinders as “kloegoed”. En as iemand sê: “die lap skud” dan beteken dit: niks maak’ie. Dieselfde met “dis nag”. Ek maak gou voorbeeld. Jy vra iemand middelmaand: Hoe lyk dit daar met ’n lekker brekfissie by die Spur? “Nee wat, die lap skud. Dis nag.”
Toast: Ek weet nie, dis ’n goeie vraag, want ek het nog nooit self daaraan gedink dat dit noemenswaardig anders is as ander plattelandse “tipes” Afrikaans nie. Ek vermoed Karoo-Afrikaans kom werklik tot sy reg op die tong van sprekers wat meestal nét Afrikaans praat, wat meer algemeen is in afgesonderde plattelandse dele van die Karoo, op plase, en dan uiteindelik wyer deur die Boesmanland en Namakwaland, waar Afrikaans die lingua franca is.
My eie manier van Afrikaans praat is lankal geaffekteer deur hoe baie Engels ek praat op enige gegewe dag (in werks- en persoonlike lewe). Myne is ook meer van ’n “Oos-Kaap-Afrikaans” wat gepraat word daar in “Frontier Country” al langs die Visriviervallei af. Dit is sterk beïnvloed deur Engels, op ’n goeie manier! Engels in daardie area word self met ruim skeute Afrikaans gepraat. Daar in Makhanda se wêreld sal mense byvoorbeeld iets sê soos: “You know mos that guy with the…” of “I will sommer phone him myself”.
My Kaapse kollegas hou daarvan om te lag as ek sê “ar-tappel” in plaas van “aard-appel” vir aartappel, en dan lag my neefs uit Limpopo weer wanneer ek blykbaar “twê” sê in plaas van “twee”…
Wat is vir jou die ideale manier om Afrikaans te vier?
Haidee: Om haar oral te herken vir die statige dame wat sy is. En nooit skaam te kry oor Afrikaans jóú taal is nie. Laat haar vlag met trots wapper, maak nie saak waar jy jouself bevind nie. Genade, die lewe sou darem maar te saai, vaal en vervelig wees sonder haar.
Toast: Om dit te praat, en nie te worry oor tale mix nie. Enige taal moet soepel genoeg wees om verandering te kan aanvaar, anders gaan dit net oudword en afsterf en verdwyn. Ons moet Afrikaans geniet, in elke vorm, ons moet dit praat en lees en skryf, en terselfdertyd veeltaligheid bevorder waar ons kan. Die toekoms – die hede – is veeltalig. Soos Breyten Breytenbach sê in “Woordkasteel”: “Soveel tale soos jy kan / Zoveel malen ben je man”.