Ons gedeelde erfenis en nalatenskap
Wat sal ons aan ons kinders oordra?
Om Afrikaans te wees, is om inklusief te wees. Dit is ten minste waaroor talle in die Afrikaanse gemeenskap droom, juis omdat dit in 2024 nog nie die werklikheid is nie. Die droom is ook dat hierdie inklusiwiteit deel van die Afrikaanse erfenis sal wees. Dit is egter ook nog nie waar ons vandag is nie, want die Afrikaanse gemeenskap is verdeel in opponerende groepies wat mekaar nie die reg op ʼn eie mening of selfs bestaan gun nie. Die verdelende terme Afrikaners, Afrikaanses, Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners lê tussen lede van die Afrikaanse gemeenskap en hiermee saam ook die veroordelende aard van verhoudinge in die gemeenskap.
Dit is die tragedie van Afrikaans – dat die geskiedenis van ons taal se ontwikkeling en die geskiedenis van die sprekers van die taal nog nie die natuurlike diversiteit van die herkoms en vertrekpunte van die gebruikers van Afrikaans weerspieël nie. As nie-Afrikaanssprekendes daarom uit hulle buitestandershoek na die Afrikaanse gemeenskap kyk, sien hulle juis die verskeurdheid en absoluutheid van opponerende standpunte raak. Dit laat hulle wonder waarom die sprekers van die taal nie saam kan werk vir die taal nie, waarom hulle nie ooreenstemmende doelwitte kan nastreef nie.
Die huidige geslag moet aan die volgende geslag(te) iets oordra van verdraagsaamheid, van ʼn wedersydse respek vir ander se standpunte, van toewyding aan die uitbou van die taal se belange sodat daarop saam ʼn toekoms gebou kan word. Daar is genoeg mense in die Afrikaanse gemeenskap wat mekaar as natuurlike vennote op die Afrikaanse pad van versoening sien, en dit is juis hulle wat die fokus van Afrikaanse aktiwiteite moet word. Laat ons aan ons nageslag oordra dat verskil in herkoms nie in die pad moet staan van ʼn volwaardig inklusiewe Afrikaanse toekoms nie. En kom ons maak seker dat hierdie diversiteit na vore sal kom in die beeld wat ons vir ander oor Afrikaans wil vorm: as oop, toeganklike, akkommoderende en veral vriendelike mense.
Is ek dalk te idealisties daaroor? Ek dink nie so nie.
Prof Wannie Carstens, buitengewone professor in Afrikaanse taalkunde aan die NWU, en ook die 2024-ontvanger van die Jan H Maraisprys vir prestasie in Afrikaans.