Afrikaans in Namakwaland
Ek is gebore en het grootgeword in Nababeep, Namakwaland. In Afrikaans, want Engels was selde daar gehoor. Namakwalanders is in die algemeen baie reguit mense, hulle hou daarvan om hulle sê reguit en sonder veel fieterjasies te sê. Dis ’n harde wêreld, warm en droog, vol klip en sand en jy moet maar baklei vir jou oorlewing.
Van kleintyd af het ek geleer om te praat soos die Namakwalanders. Sonder frilletjies of fraaieghede. Sê wat jy wil sê en kry klaar. Die ding loop nou al ’n leeftyd saam met my. Ek het min tyd vir pretensie en hoogdrawendheid, vermy vergaderings so ver as wat ek kan en hardloop weg as ek ’n toespraak moet bywoon. Politieke poppespele en al daai gelieg ontstel en verveel my eindeloos.
Nou die dag sien ek op Facebook ’n foto van ’n ouerige man wat trots aankondig: “Ja, dis ek, nog steeds Bertie Pap Mulder van Nababeep”. Ek onthou hom goed, hy was een die Mulder-kinders, die Pappe. Namakwalanders is trots op hulle byname. Dit was ook ’n manier om die mense wat dieselfde van gedeel het te onderskei van ander families. Een tak van die Coetzees was die Blootvoete, die Van Niekerks was die Katte of die Hoppiedaais of die Dikjanne, die Van Zyls was die Bontbulle en die Meyers die Beenkoppe. Dis nou ’n paar van die bokant-die-belt byname.
Stel jou nou voor: die dominee doen huisbesoek by Oom Agenbag. Mens dink hy sou sê: ”Goeiemôre, meneer Agenbag!”, maar nee, dis “goeiemôre, oom Polony!”. Dit alles omdat oom Agenbag ’n ligte gelaatskleur gehad het en gou pienk gebrand in die son.
Dan kom dominee by een die vele Van den Heevers van die dorp en dis “goeiemôre, oom Rooi Kolie”. Oom Kolie het dieprooi hare en rooi sproete gehad. Sy seun, Bontkindjie, is vandag nog ’n gewaardeerde vriend van my.
Elke keer as ek voorgestel word aan ’n BBP of vername en gesiene figuur, wonder ek dadelik: wat was jou bynaam as kind? En onmiddellik sien ek die geagte sy edele hooggeëerde emeritus professor doktor in ’n ander, meer aanvaarbare lig. Kan dit nie help nie.
In die 1800’s het ’n bende Boesmans 32 kinders by ’n staning buite Steinkopf vermoor. Die massagaf is vandag nog daar en die plek staan bekend as Kinderlê. Net dit: reguit, eenvoudig en skreiend eerlik, en dit vertel jou mos alles wat jy wil weet.
In die Richtersveld was daar ’n dorpie genaamd Stinkfontein. Blykbaar was daar een of ander slagting en die lyke is net daar by die fontein laat lê. Deesdae staan die dorpie bekend as Eksteensfontein. En iewers daar teen ’n rant staan daar ’n paar ou huisies gebou vir ouer, afgetrede mense. Die plekkie se naam is Oumenshoog.
As kind het ek vetplante versamel. My gunsteling was ’n plantjie genaamd Lithops. In Namakwalands sommer Beeskloutjie, en sy groter neef Pleiospilos sommer Beeslewer. Conophytum word Knopie, want hy lyk mos soos ’n klomp knopies bymekaar.
Dis hoe ek in Namakwaland leer praat het. Ploeg deur uitspattige beeldspraak, oordrewe vernaamheid en kamstige slimheid en kom by die kern van die saak uit. As ek ’n ding reguit en gestroop kan sê al klink ek dom en lomp, dan is dit nou maar so. ’n Lekker storie bly ’n lekker storie, vertel hom tog net reg. Soos Herman Charles Bosman gesê het – die belangrike deel is die deel wat jy nié vertel nie. Natuurlik onder al hierdie kwessies loop daar ’n diepliggende en heerlike stroom humor wat met groot genot ontgin word.
Dié soort gesprek is nie ongewoon in daai geweste nie. “Hoor hier, bel dan gou daar vir Mouteroog en sê hy moet sy bakkie by Jan Clutch loop haal en vir Bumperbek oplaai met sy kamera. Die Piet Snotte staan geil vanjaar daar duskant Nagel se Draai. Kry sommer ook ’n bottel brandewyn daar by Van Club lat ons behoorlik kan gly daar tussen die dassie gousblomme deur.” Musiek vir my ore.
Soos Bokkie Basson, legendariese rugbyspeler en geliefde onderwyser van Nababeep, eenkeer gesê het: “Party mense hou van groen. Ander hou van vaal. Ek hou van vaal”.
Richard van der Westhuizen is ’n akteur, sanger en liedjieskrywer.