fbpx

Afrikaans se wortels en takke

“Standaardafrikaans is die variëteit van Afrikaans wat deur die Afrikaanssprekende taalgemeenskap as normatief vir taalgebruik in bepaalde situasies beskou word. Dit kom in die gesproke vorm voor in veral die klaskamer, die lesinglokaal, die kerk en die geregshof, in openbare toesprake, ensovoorts, en in die skriftelike vorm in veral handboeke, godsdienstige en wetenskaplike geskrifte, wette, nuusberigte, verslae, memoranda, ensovoorts.” Dit aldus die Taalkommissie in 2019.

Afrikaans se takke loop egter verder as dit. Reël is daar, ja, maar dis ’n taal met plek vir almal en die reëls is daar om te buig. Nè?

“My Afrikaans issie klank vannie Kaapse Vlakte – liewendag en vol weestand, soesie mense self. Is ’n taal van vertel, van opstaan, van resist, van krag gie. ’n Taal wattie stories van ôsse communities echo, ennie lag van ôsse kinnes vashou. Is ’n taal wat, ongeag sy geskiedenis ennie pogings om dit te marginalize, bly groei en thrive. Deur Afrikaans kan ek stem gie annie stories wat dalk andersins verlore sou gaan, die verliede met die hede verbind, en ’n toekoms skep waa elke deeltjie van ôsse wese erken en gevier wôd.”

Só skryf die dramaturg, skrywer en joernalis Chase Rhys wat vroeër vanjaar by die Columbia-universiteit in New York vir ses weke nie net meestersklasse in skryf bygewoon het nie, maar ook klas gegee het en vir studente meer geleer het van Kaaps, die taal waarin hy skryf.

Jou mô en pô het dalk ’n strôndhuis, soos die Pretorianers sê, of dalk bry jy soos ’n Swartlander. Praat jy van hom se goed, klink sewe soos seuwe en sê jy geonthou soos die Namakwalanders? Weet jy wat beteken poenankies, ytstiek en awê?

Is daar ’n taal wat soveel variëteite het as Afrikaans? Volgens www.afrikaans.com is daar twaalf variëteite:

  • Karoo-Afrikaans
  • Kaapse Afrikaans
  • Griekwa-Afrikaans
  • Namakwalandse Afrikaans
  • Boesmanlandse Afrikaans
  • Voortrekker-Afrikaans
  • Afrikaans
  • Oos-Kaapse Afrikaans
  • Vrystaatse Afrikaans
  • Standaardafrikaans
  • Overbergse Afrikaans

Afrikaans se wortels lê dalk in Nederland, maar daar is soveel takke aan dié boom.

Leenwoord
’n Leenwoord is ’n woord wat aan ’n ander taal ontleen en nou deel van Afrikaans is, byvoorbeeld abba (Khoi); baie (Maleis); confetti of konfetti, pizza (Italiaans); guerrilla (Spaans); indaba (Zoeloe); lapa (Sotho); speaker, krieket (Engels); kimono (Japannees); kitsch, leitmotief (Duits); mayonnaise (Frans). Leenwoorde word soms met die oorspronklike spelling en uitspraak oorgeneem, byvoorbeeld speaker en mayonnaise, en in ander gevalle word aanpassings by die eie taalsisteem gemaak, byvoorbeeld krieket en leitmotief.
– Afrikaanse woordelys en spelreëls – negende, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe, 2002

Afrikaans is ’n taal wat steeds groei. Elke jaar word daar nuwe woorde geskep; woorde soos beurtkrag, grendeltyd en lugbraaier. In 2022 was die wenner van WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) se nuutskeppingkompetisie die woord kuljoene oftewel groot bedrae wat weens korrupsie, bedrog of swendelary verdwyn.

In 2021 is daar ook verskeie nuwe woorde tot die WAT gevoeg, ondermeer aaptwak, chakalaka, doef-doef-musiek, hommeltuig en komvandaan. Elkeen van dié woorde se wortels lê in Afrikaans, maar die oorsprong kom uit verskillende variëteite. Elkeen van die woorde word ook wyd gebruik, maak nie saak watter Afrikaans jy praat nie. Net nog ’n teken van die veerkragtigheid van hierdie taal wat ons Afrikaans noem.

Met die oploop na die eeufeesviering van Afrikaans in 2025, is die variëteite iets om met groot oorgawe te vier. Jou Afrikaans is dalk nie my Afrikaans nie, maar Afrikaans in al haar vorme is ons almal s’n.