Afrikaans as ampstaal
Brasse, bra’s en broeders. Sisi en suster. Staan nader, staan nader. Maak ’n plan of dala wat jy moet. Kom tiekie en riel, klink ’n glasie en sê tjeers en tjorts, want op 8 Mei 2025 word daar groot partytjie gehou wanneer die mooiste taal eeufees vier. Ja, Afrikaans is volgende jaar amptelik ’n honderd jaar oud en álmal is genooi.
Jou Afrikaans klink dalk nie soos my Afrikaans nie, maar een ding is seker: Afrikaans is ons almal s’n.
Afrikaans is reeds baie ouer as ’n honderd jaar, maar dit was op 8 Mei 1925 toe Afrikaans amptelik, naas Engels, een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het.
Afrikaans se voetspore lê oral – van die akademie tot die letterkunde, van die hof tot in die kerk, van vermaak tot die wetenskap. Vir een van die jongste tale in die wêreld het Afrikaans gewys dat dit ook een van die mees dinamiese tale is wat steeds groei – nie net in woordeskat nie, maar ook in die hoeveelheid mense wat dit praat.
Die Grondwet van 1909 het bepaal dat Nederlands en Engels die amptelike tale van die land sou wees, maar die nuwe Grondwet in 1925 het Afrikaans aan Nederlands gelykgestel en is dit, naas Engels, as amptelike taal erken.
In Suid-Afrika se Grondwet van 1996 het Afrikaans steeds die status as amptelike taal behou, maar hierdie keer is nege van die land se ander tale ook saam met Afrikaans en Engels ingesluit. Afrikaans is volgens die sensus van 2022 die derde grootste taal in die land – naas isiZulu (24,4%) en isiXhosa (16,3%) – met meer as 6,5 miljoen, oftewel 10,6% moedertaalsprekers in die land.
Afrikaans het natuurlik van toeka tot nou verskeie takke gegroei en Standaardafrikaans is beslis nie die enigste taal wat gepraat of waarin daar geskep word nie. Van die beginjare se eerste Afrikaans tot Oranjerivierafrikaans, Kaapse Afrikaans en Noordelike Afrikaans. As Afrikaans ’n huis was, was daar verskeie kamers.
Die Afrikaans Amptelik 100-feesjaar skop op 8 Mei 2024 af en kotiljons tot 8 Mei 2025 wanneer die taal feestelik in die Paarl by die Taalmonument gevier gaan word. ’n Jaar se plesierigheid, ghoema en rieldans. ’n Jaar van gesprekke, deelname en skeppings om die taal te vier.
Almal is genooi. Jy, jy én jy. Maak nie saak in watter kamer jou Afrikaans woon nie, solank jou hart vir die mooiste, wondersoetste taal klop.
Awê. Dis dan dit. Net soe. Laat ons jol!