fbpx

Karoo-Afrikaans

In die middel van Suid-Afrika lê daar ’n stuk aarde, ’n halfwoestyn wat ’n groot gedeelte van die suidweste van die land beslaan. Daardie stuk aarde word die Karoo genoem; Karoo van die Khoi-woord wat droog of harde grond beteken.

Die Politieke Raad noem reeds die area in 1796 “Caro”, alhoewel die koloniste dit aanvanklik Drooggeveld genoem het. Met tyd het Caro egter Karoo geword en is dit vandag nog só bekend.

Die Karoo is geografies in drie dele verdeel: die Groot-Karoo, die Klein-Karoo en die Noord-Karoo. Saam beslaan dit sowat 40 persent van Suid-Afrika se oppervlakte.

Met inwoners van die Kaapse kolonie wat die binneland wou in, was daar uitbreiding in die rigting van Wellington en Tulbagh, die Bokkeveld, die Olifantsrivier en verder noord van Klein-Namakwaland. Ook natuurlik die Karoo.

Volgens Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika deur W.A.M. Carstens en E.H. Raidt (Protea Boekhuis, 2019) was ’n groep wat uit die Basters ontstaan het, maar ’n groter Khoi-herkoms het, genaamd die Oorlams. “Hulle word beskryf as Khoi-Khoin-groepe wat Afrikaans as moedertaal gepraat het en ook besonder aktief in die binnelandse grensgebiede was, soos in die Noord-Kaap en die Groter Karoo-omgewing. Hulle het ’n groot aandeel daarin gehad dat Afrikaans noord van die Oranjerivier, in die besonder Namibië, gevestig is. Bekende leiers onder hulle was kaptein Hendrik Witbooi (1830 – 1905) en Jager Afrikaner (1750 – 1823) en ook later Jonker Afrikaner (1790 – 1860), Jager Afrikaner se seun.”

Simon Witbooi, ook bekend as die kletsrymer en skrywer HemelBesem, is ’n direkte afstammeling van kaptein Hendrik Witbooi, ook bekend as Die Gesel van God.

“Hendrik Witbooi was my oupa se oupa se pa,” het HemelBesem in ’n onderhoud met Vrye Weekblad gesê.

In sy boek, God praat Afrikaans (Lapa Uitgewers, 2017), skryf HemelBesem oor sy “tjappies”, oftewel tatoeëermerke, wat hy het. Een daarvan is van Hendrik Witbooi.

“Reg onder, tussen die mik van my elmboog en my pols, is ’n vergrote weergawe van kaptein Hendrik Witbooi, soos hy op die Namibiese $50 verskyn. Hy is ook op die $100- en $200-note, maar die groen het beter vir my gewerk. Sy naam weerklink wel in ’n straatnaam en ’n paar geboue in Namibië maar hier in Suid-Afrika hoor en sien ’n mens niks van hom nie – en dis ’n man wat so baie vir die Afrika-vasteland en vir Suid-Afrika beteken het. Hy was die William Wallace, Che Guevara en Wong Fei-hung van sy tyd – en die geskiedenisboeke hoef hom nie daar ver te gaan haal om hom te vereer nie. Hy is van hier! ’n Seun van die soil! Ek is ’n nasaat van hom, en dit was vir my belangrik dat hy naaste aan die mikrofoon moes wees wanneer ek praat.

“Onder sy portret is die woorde “Khaob !Nanseb /Gabemab” in sulke rotsstukke uitgekerf. Dis Nama vir ‘the captain who disappears in the grass’. Dit verwys na sy kamoefleertaktiek tydens gevegte.”

Saam met die Khoi-Khoin-groepe wat noord getrek het, het Afrikaans getrek. “As ’n mens van taalvariasie praat of daarvan hoor, bring jy dit tradisioneel in verband met variasie op grond van geografiese redes,” skryf Carstens en Raidt in Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika. “Dit het Afrikaans wel duidelik: ons praat maklik van Kaapse Afrikaans, Sandveldse Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans, Boesmanlandse Afrikaans, Bolandse Afrikaans, Worcesterse Afrikaans, Suid-Kaapse Afrikaans, Vrystaatse Afrikaans, Transvaalse Afrikaans, Karoo-Afrikaans, Johannesburgse Afrikaans, Pretoriase Afrikaans, Gautengse Afrikaans, die Afrikaans van die Richtersveld, Suidwes Afrikaans/Namibiese Afrikaans, en so meer,” skryf hulle.

Verskeie bekende Afrikaanse skrywers se wortels lê in die Karoo. N.P. van Wyk Louw is in Sutherland gebore, Ingrid Jonker het haar eerste lewenslig in Douglas aanskou en C.J. Langenhoven is seker een van Oudtshoorn in die Klein-Karoo se bekendste boorlinge.

Die sanger en liedjieskrywer Coenie de Villiers is dalk in Bloemfontein gebore, maar sy “Karoonag” is van die mees geliefdse lirieke in Afrikaans wat ’n plek beskryf:

As die nag sy baadjie toeknoop oor die veld
en die diereriem sy blink tot teen die skerpioen laat lê;
as die tweeling en die kreef
kotteljons oor Beaufort-Wes
en die maan sy beker skink oor Graaff-Reinet
Ruik jy katbos en kambro
as dit reën in die Klein-Karoo
My hantamwind
My optelkind
vanaand
Ruik jy katbos en kambro
as dit reën in die Klein-Karoo
My hantamwind
My optelkind
vanaand, hier vanaand

Skakel na “Karoonag”: https://www.youtube.com/watch?v=zUIUKwFiWHQ

C. Louis Leipoldt is in 1880 op Worcester gebore, maar in sy digbundel Oom Gert vertel en ander gedigte (1911) het hy geskryf watter impak die Karoo op hom gehad het. Hy skryf in “Op my ou Karoo” se eerste drie verse:

Hier wil ek rus op ons vaal Karoo –
Hier, waar die veld ’n leegte is –
Hier, by die slang en die akkedis –
Hier, met die hemel blou daarbo.

Grawe hier, boetie, ’n graf vir my!
Hier is ek tuis, my land is hier –
Hier, waar die korhaan bruilof vier –
Hier wil ek lê in ons grougeel klei.

Stel nie ’n klip of ’n kruis daarbo;
Skrywe geen teks wat ‘n mens kan lees;
Sê net: ‘Hy slaap waar hy wou wees –
Hier in die skoot van ons vaal Karoo’.

Volgens ’n artikel – “Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit: ’n sosiokultulturele perspektief” – deur Prof. Michael le Cordeur, wat in 2011 in Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het, is die volgende onderhoud gevoer met ’n middeljarige bruin man wat in die Karoo met skape boer. Prof. Le Cordeur let daarop dat die man se taal na aan Standaardafrikaans is.

“Kyk Afrikaans is die taal van my, ek het nie ander taal nie. Die Bantoe het sy taal, maar hier in ons land, die Karoo, het ons net een taal, Afrikaans, variant of te not, dis al wat ons het om ons sê te sê,” het die man gesê.

Die sogenaamde karretjiesmense, mense wat deur die Karoo swerf of soek na werk, het ook Afrikaans oor ’n wye gebied versprei: van Colesberg tot Carnavon, Prieska tot Richmond.

Oor Karretjiesmense (Umlazi, 2013), geskryf deur Carol Campbell en uit Engels deur Kirby van der Merwe vertaal, skryf prof. Le Cordeur in sy resensie vir Tydskrif vir Geesteswetenskappe: “Die hoofstukindeling is interessant en word benoem volgens die karakter wat aan die woord is. Met hierdie unieke vertellersperspektief slaag die skryfster daarin dat die karakters die verhaal vanuit hul perspektief en boonop in hul eie idioom vertel. Kirby van der Merwe se vertaling gee erkenning aan Karoo-Afrikaans soos dit in die volksmond leef. Trouens, die titel van die roman is juis een van talle mooi voorbeelde van hierdie pragtige variëteit van Afrikaans wat deur hierdie roman geboekstaaf word.”

Dit is dus nie net Standaardafrikaans wat in Karoo-Afrikaans gekry word nie, daar is verskeie woorde wat hulle oorsprong in Khoi het en wat steeds gebruik word; woorde soos abba (op die rug te dra), aitsa (uitroep van verbasing), hoeka (lank gelede of inderdaad), kamma (nie regtig nie) en kierie (loopstok). Ook plekname, soos Garies in die Noord-Kaap, is ontleen aan die Khoekhoen-woord /xharis wat na die gruipgras wat in die omgewing groei verwys.

Volg hierdie skakel na Ons Karoo en kontrei vir meer inligting oor dorpe in die Karoo en die geskiedenis daarvan: https://onsknk.co.za