Griekwa-Afrikaans
“Ek slat my twee oge op:
my kyk vang die verste kop
waarvan sal my hulp nou kom?
My hulp is van die Jirre, van Hom.”
Só lui die eerste vier versreëls van een van die Griekwa-psalms deur prof. Hans du Plessis in sy bundel Innie skylte vannie Jirre wat in 2020 gepubliseer is.
Griekwa-Afrikaans se wortels lê in die Noord-Kaap met die Griekwa-kapteins Andries Waterboer en Adam Kok III wat hul eie vorm van Afrikaans in amptelike dokumente gebruik het.
“Die geskiedenis van Khoi-Afrikaans (wat in die Noord-Kaap as Griekwa-Afrikaans bekend geword het) is indrukwekkend. In die loop van die negentiende en twintigste eeu was dit oor ’n groter gebied versprei as enige ander soort Afrikaans,” het Christo van Rensburg in sy boek Afrikaans in Afrika geskryf. “Talle maniere waarop sinne in Standaardafrikaans gevorm en gebruik word, toon Khoi-invloed. Die dubbele ontkenning in Afrikaans, verkleinwoorde wat so dikwels gebruik word (dit reën so bietjie-bietjie) en ’n bepaalde gebruik van se in besitskonstruksies (die man se hond).”
Daar is ’n magdom Khoi-woorde wat steeds deel van Afrikaans is soos abba, dagga, karos, kierie, hoeka asook aitisa! en eina!
Goed is ’n aanpassing van die Khoi voornaamwoord ghoe wat “hulle” beteken, aldus die boek Halala Afrikaans (Protea Uitgewers). Die standaardtaal-konstruksie Pa-hulle, Ma-hulle, Piet-hulle, en so aan, is dus ’n vertaling van die oorspronklike Khoi-konstruksie.
Prof. du Plessis het reeds by ’n FAK-byeenkoms in 1977 gesê dat bruin mense deel van die Afrikaanse gemeenskap is en met sy intreerede as professor in Afrikaanse Taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (deesdae Noordwes-Universiteit), het hy bepleit dat kwynende vorme van Afrikaans, soos Griekwa-Afrikaans, vasgevang moet word.
In 2002 lewer hy ’n gedenklesing – Afrikaanses en Afrikaans: Van Malkherbe tot Mbeki – en bepleit hy dat Afrikaans inklusief moet wees, ook vir mense vir wie dit ’n tweede of derde taal is.
Prof. du Plessis was ook die skrywer van die toneelstuk Broerse, ’n drama wat in Griekwa-Afrikaans geskryf is en wat by die KKNK in 1997 gedebuteer het. Dit vertel die verhaal van ’n gesin waar twee broers aan verskillende kante van die kleurskeidslyn beland en op dieselfde vrou verlief raak. In die rolverdeling was James Winkler, Anthony Wilson en Shemane Davids. Die regisseur was Ben Kruger.
- Kyk en leer meer hier oor die dokumentêre film Die Griekwa is nog, ’n projek wat moontlik gemaak is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), waarin daar gekyk word na die geskiedenis van die Griekwa en hoe hulle steeds onlosmaaklik deel is van Suid-Afrika:
https://klyntji.com/joernaal/2023/8/11/die-griekwa-is-nog
- Luister en kyk hier na die Kaapstad Jeugkoor wat ’n beryming van die Griekwa-weergawe van Psalm 121 sing:
https://www.youtube.com/watch?v=wCAmaUYcYhQ
- Luister hier na ’n voorlesing van Griekwagebed: Psalm 121 deur Veronica Geldenhuys uit Prof. du Plessis se Innie skylte vannie Jirre:
https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/stiltetyd/luister-griekwagebed-psalm-121/
- Luister hier na Randall Wicomb se weergawe van Dasie ’n lantie (Psalm 8) van sy album Hie neffens my:
https://www.youtube.com/watch?v=1_La0EZYQkI