fbpx

Erfenis: Wat moet jou nalatenskap wees?


’n Paar skrywers en akademici verwoord wat dit is wat hulle vir die toekoms van ons land, ons taal en die wêreld wil nalaat.

Afrikaans is mooi, en Afrikaans is moeilik. Dis ʼn komplekse taal met ʼn komplekse geskiedenis van party wat wou uitsluit, en ander wat alles wou doen om in te sluit. Daar is nie een enkele narrative wat die volheid van Afrikaans omvat nie. Soms maak dit trots, soms skaam, soms kwaad, maar nooit is daar net ʼn ongeëergdheid jeens die taal en haar mense nie.

Om die kompleksiteit te ontken, beteken ook dat ons iets van die rykdom van daai geskiedenis weggooi – die goeie, die slegte en die aaklige weef saam aan ʼn tappisserie wat eie aan ons is. Ek hoop dat ons nageslag nooit Afrikaans net deur rooskleurige brille sal sien nie. Ek hoop hulle besef dat die taal oor  ʼn eeu en hopelik die volgende eeu soos rivierklippe glad geskuur en mooi gemaak is deur die wrywing. Ek bid dat hulle daai opoffering sal eer. Hopelik sal hulle soms net stilsit in verwondering oor hoe huilmooi ʼn woord op die oor val, en die musiek sal hoor in woorde soos tjaila, knaap, jammerlappie en allegaartjie. My wens is dat hulle sal besef taal, kulturele gebruike, kos, musiek en literatuur alles deel vorm van wat ons mens maak, en dat ons onsself kniehalter wanneer ons dit wegsteek as deel van ons gemeenskaplike kultuurgeskiedenis.

Ek hoop hulle sal gemaklik wees met  die speelsheid van “aweh masekin”. Ek hoop hulle sal weet in hul diepste wese dat taal allemansgoed is, en hoe meer mense ʼn taal gebruik, hoe beter vir die taal. Ek hoop dat instede van skaam wees om Afrikaans in al haar vorme te praat, hulle sal besef hoe cool en hoe uniek hierdie jong taal is wat al soveel golwe gemaak het.

My grootste hoop en wens en gebed is dat hulle trots sal wees op Afrikaans in al haar diwersiteit.

Bettina Wyngaard, skrywer

Ons staan op die rand van geskiedenis as geslag wat die voorreg het om in 2025 Afrikaans se eerste eeu as amptelike taal te vier. Met hierdie viering ontken of vergeet ons nie van die monumentale mylpale wat voor 1925 bereik is nie. Ons vier die bakens van elke Afrikaanse variëteitstaalgemeenskap en elke individu wat hand aan die ploeg geslaan het om Afrikaans tot op ʼn punt van genieting van amptelike status te bring. Ons vier voorts die groei wat Afrikaans in die laaste eeu beleef het, maar sien hierdie eeufeesvieringe ook as ʼn tasbare geleentheid om sprekers oor alle variëteite heen te herinner aan ons gedeelde erfenis. Tog kan daar nie aanspraak op hierdie erfenis gemaak word sonder verantwoordbaarheid nie. Nie net is die viering van Afrikaans 100 ʼn feestelike geleentheid waar ons terugkyk en gemeenskappe saamsnoer nie, maar dit dien dit ook as wekroep vir ʼn geslag en groter taalgemeenskap om verantwoordelikheid vir die volgende honderd jaar se behoud en groei te aanvaar. Dit kan gedoen word deur die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis as rigsnoer te gebruik – die suksesse wat behaal is, maar ook die foute wat gemaak is. Voorts was kreatiewe minderhede in die verlede en is steeds vandag in wese besig met ʼn groter taalbeplanningsprojek vir Afrikaans; hierdie projek moet met dringendheid en ʼn sterk fokus voortgesit word. Daar behoort veral klem gelê word op aspekte soos taaloordrag tussen generasies, tendense in bestaande taaldomeine en reaksie op nuwe domeine, taalhoudings en beleide van regerings en instellings, maar óók die taalgemeenskap se eie houdings oor Afrikaans.

N.P. Van Wyk Louw skryf reeds in 1938 in ʼn essay: “Maar bowenal het sy taal soos ʼn pragtige nuwe wapen in sy hand gevoel, en sy taalstryd was die ware derde vryheidsoorlog; en hy moes en hy wou ʼn literatuur maak, ʼn hele nuwe beskawing opbou; en hy het ingesien dat die wêreld vir ons so heerlik is omdat daar by ons nog alles was om te doen”.

Daar is nog baie om te doen, maar as ons dit met omsigtigheid (met ʼn goeie balans tussen die goeie van die verlede en die vraagstukke van vandag) doen, kan ons waarlik rekenskap aan die volgende geslag gee.

Dr. Annelise de Vries, dosent: Akademia

As jy “eina!” skree vir ‘n doring se steek en blatjang by jou vleisie eet, “Deur Druk” met Early B  of saam sing met Dawid Kramer en die manne van die Royal Hotel, is jy waarskynlik Afrikaans soos kan kom.

’n Afstammeling van Krotoa, dis nou ek en jy, familie van Autshumato, moontlik van Jan van Riebeeck en ook van ou Simon van der Stel.

Gevloei uit vele oseane en gekruip oor enorme sandduine met invloede van Khoi, Maleisies, Arabies het ons taal sy eerste babatree gegee. Sy het gegroei tot soveel meer as net ’n middel van kommunikasie, sy het haar voete gevind, selfstandig geword. Sy ding mee op elke vlak, sy is dinamies en veerkragtig.

Hier is ons nou, ek en jy. Met die mooiste Afrikaans, ’n taal wat lewe en vibreer, haar groei en vaardighede word deur menigte begeer.

Ons skep nuwe woorde, kuns en musiek, ons vier fees, vat hande en beur vorentoe. Afrikaans vou haar sambreel moederlik oop, omhels nuutskeppings en al haar variëteite.

So, hoe lyk’it my broe, gaan djy dala wat’djy moet en op die wa bly, of wil djy liewer gly? Ja, dalk het djy gehoor hoe mense baklei het en steeds swaar dra aan die verlede. Ons is hier, meer as ’n eeu oud en staan sterk, ons gaan vorentoe.

Daar issie ’n anner way, Afrikaans is jy gebore, dis jou moedertaal. Leef daarin, outentiek, want dis jou reg en voorreg. Maak jou bydrae, maak jou merk, lewer jou kunswerk in jou ma se taal met sy Namakwalandse- of Kaapse-geur, die keuse is joune.

Solank jy onthou jou taal bly veg vir jou.

Op die volgende honderd jaar!

Awêh!

Anzil Kulsen, skrywer

My ouers, Patsy en Rôza, was eg Afrikaans. By hulle leer ken ek die verskil tussen ’n  toerkie, ’n toertjie, en ’n tjoertjie. Die een is ’n emmer gemaak deur ’n 5-liter-plastiekbottel te omvorm, die ander ’n nar op ’n eenwiel-fiets of iets soortgelyks, en die laaste een ’n klapper wat versmoor. Hulle sê ook dis slegte maniere om in iemand se huis te visenteer sonder toestemming, en kooi was eerste hier, lank voor bed. Die manier van praat leer my ma by my oupa- en oumagrootjie, oorspronklik en onderskeidelik van Wynberg en Riversdal. My pa leer by sy grootmaak mense in Kliptown. My ouers wou hê ek moet weet wie ons mense was, waarvandaan hulle kom, en veral hoe Afrikaans hulle was. Van my familie en vriende probeer hul Afrikaans-wees agter deursigtige Engels wegsteek, nes baie ander Khoisan- afstammeling wat hoop dié besluit gaan hul lewens in die huidige Suid-Afrika vergemaklik. Wat van ’n ander strategie? Kom ons maak soos ons voorsate en word veeltalig soos Sara Baartman en Krotoa; dis in ons gene. Voeg nog inheemse tale by jou arsenaal, maar moenie jou eie taal afstaan nie. Dis jou reg om te sê hoe jy voel in die taal waarin jy voel. Moenie die kontroversie van Afrikaans in ons land se geskiedenis ontken nie. Moenie die verlede probeer verduidelik of verdedig nie. Maak liewer seker jy deel nie in ’n nuwe onreg deur die taal te probeer begrawe nie. Vir die toekoms sien ek ’n nuwe wêreld kom, ’n Suid-Afrika nuut en vry. Veeltaligheid en diversiteit, die self kom by ons bly. Dis ’n droom, beslis, maar sukses word gebou op onmoontlike drome. Ek los agter wat aan my geskenk was – om vas te hou aan my taal soos my mense dit aan my gegee het.

Prof. Debra Meyer, Universiteit van Johannesburg

My gedig oor Afrikaans (2015) eindig so: kyk/ daar dans sy vandag/ ’n mooi vrou in pastel/ en grondkleure/ omhels in skerp én sagte geure/ en sy ghoema die riel in sokkies!

Die /khâba-ra (riel): Ons moeder is gebore na sowat 100 jaar se ruilhandel met gebaretaal tussen Khoi-veeboere en Europeërs. Die Kaapse Khoi-Khoi en die Hollanders het in 1595 begin moeg raak vir die beduiery. GS Nienaber sê Hottentot-Hollands het tot “…die vorming, aard, karakter en seggenskrag” van Afrikaans bygedra. Tolke soos Krotoa en Doman het ongeveer tagtig Khoi-Afrikaanse woorde naas Hollands ingespan.

Die ghoema: Ons moedertaal het haar kinderjare ontgroei toe imams en taalgeleerdes, wat teen die kolonisering van hul tuistes soos Indonesië en Bengale gestruggle het, as rebelle na die Kaap ontvoer was. In die Kaapse madrassa het onder meer Tuan Guru en Abubakr Effendi godsdiensonderrig in Arabies-Afrikaans gegee. Hulle het in die middel 1800’s die spreektaal met Arabiese letters begin skryf. Dis baie cool, om maar een van vele Moslemafrikaanse woorde te gebruik.

Die sokkie: Daarna het onder andere Arnoldus Pannevis, CP Hoogenhout en ds. SJ du Toit die GRA in 1875 te Paarl gestig. Doel: “Om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land”. Hulle joernaal en woordeboeke het ons taal in die tydsgleuf van vroeë volwassenheid geneem. Van die grondleggers se woordeskat is wel ingesluit, maar hul erkenning is skromelik uitgesluit. Die “nasie” het immers taalkaping en blankheid veronderstel!

Mettertyd is ons moedertaal omskep in ’n oop, veerkragtige, dinamiese, grensverskuiwende, nie-rassige erfstuk. Danny Titus se geliefkoosde teksvers was Ps. 16 v. 6: “My erfenis is vir my mooi.” In my Pesalms vi ôse mense: “Dit wat ek van U gekry’et, Vade, is n/ya”.

Daarom nooi Afrikaans 100 alle Afrikaanssprekendes uit om by ons amptelike bal sonder maskers te kom dans.

Dr. Willa Boezak, teoloog en skrywer

Almal wat wonder oor die waarde van erfenis kan gerus nadink oor die harde bene wat gekou is in die begin van die mensdom. Ek praat van honderde duisende jare gelede voordat ons oor taal beskik het. Voor ons Eugene Marais se “Winternag” gehad het, wat nog te praat van David Kramer se “Royal Hotel”.  Ja, nog lank voor die Bybel het ons alreeds begin erf. Al hierdie mooi dinge wat ons vandag so te sê oornag persent gekry het, kom al ’n lang, kronkelende pad. En baie van ons voorouers het hard gewerk vir die lekker lewe wat die mensdom vandag geniet. 

Soveel so, die mens van vandag het heelwat kwaliteite noodsaaklik vir oorlewing afgeleer. Ons het samelewing ontwikkel wat beteken nie almal hoef op hulle eie alles te doen om te floreer nie. Ons baat dus van mekaar se verskille en daarom is ons so ’n suksesvolle spesie.

Wat my bring by ons grootste erfenis wat al ons suksesse moontlik maak. Ons taal. Ons Afrikaanse mense het ’n besonders pragtige taal met ’n ryk geskiedenis. ’n Moeilike geskiedenis met hartseer, verdeeltheid en swaarkry, maar ook van triomf en oorwinning wat ons op die rand los van ’n belowende toekoms met ’n groter, ryker en sterker Afrikaans. Ons familie is groter, sterker en ryker met verhale en geskiedenis wat ons net meer kleurvol maak.  

Dit is inderdaad ’n nuwe blomtydperk van Afrikaans in al sy wonderlike dialekte en ek is bly om by te dra met alles wat ek kan, hetsy met woord, musiek, televisieprogramme of flieks. So dankbaar vir almal en alles wat voorafgegaan het dat ek hierdie besonderse gawe kan geniet om terug te gee
in die taal vir die taal wat ek so lief het.

Riku Lätti, sanger en liedjieskrywer