fbpx

Afrikaans 100 se feesprogram luisterryk in Kaapstad bekend gemaak

Van musiek tot kuns, langtafels tot gedenklesings. Dít is alles op Afrikaans 100 se feesprogram om die mooiste, mooiste taal se eeufees as amptelike taal te vier.

Die feesprogram is op 27 Februarie by die Iziko Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad bekend gemaak met klank en geur. Die seremoniemeester was Frazer Barry en hy het van meet af die stemming van die oggend bepaal – hierdie is ’n feesviering, ’n veer in die hoed en ’n mylpaal wat erkenning verdien.

Zieyaad Hattas, voorsitter van die Kaapse Maleierkoorraad, het ’n koor van lede van verskeie Maleierkore gelei in ’n keurspel van moppies en liedjies wat staande deur die gaste toegejuig is. Diana Ferrus het een van haar gedigte, “Afrikaans, ’n versoeningstaal” voorgedra en dit het weer die gaste stil van bewondering gehad.

Dit is, het hulle gesê
die taal van die onderdrukker.
Dit kom, het hulle gesê
uit die mond van Europa
Dit het, het hulle gesê
‘n Enkele styl – net een vir kommunikeer
maar uit die buik van Afrika kom sy.
Uit die monde van slawe, Europeers, inheemse volke.

Dans sy op die maat
van oeroue tromme en handgemaakte kitare
Dra sy kostuums van vele kleure
en sing sy in ‘n duisend stemme

Nou, na die stormjare,
dans sy nie meer so flink
maar sy omhels die skouers van haar susters
en kus versoenend op elke wang.
Aan die geveg oor identiteit het sy geen erg
in die Afrika rennaisance vind sy haar weg.

Onder die bekwame leiding van die seremoniemeester Frazer Barry, het die sprekers hulle sê gesê. Theuns Eloff en Michael Jonas, onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van die Afrikaans 100-oorsigkomitee, het gepraat oor die belangrikheid van die vieringe asook waarom die fees in die Bo-Kaap, Genadendal, die Paarl en Pretoria gehou word.

Giep van Zyl en René Arendse van Afrikaans 100 het daarna die program bekend gemaak en vertel wat feesgangers alles te wagte kan wees. Die oggend is afgesluit deur die sangeres Anna Davel wat onder meer haar jazz-weergawe van die trefferliedjie “Jantjie” gesing het.