fbpx

Namakwaland se Afrikaans

is so kleurryk soos sy blomme

“Op die groot saaidag van die heelal
het reeds ’n entjie duskant Wupperthal
oor die kaal Noordweste
’n sakkie van die Heer se beste
saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.”  – D.J. Opperman se “Namakwaland”

Wanneer jy op die N7 noorde toe ry en jy kom in Garies, dan weet jy jy is in Namakwaland. Die N7 vat jou dan verder na Kamieskroon, Springbok, Nababeep en Steinkopf. As jy links see se kant toe ry, kry jy Hondeklipbaai, Koingnaas, Kleinsee, McDougallsbaai en Port Nolloth.

Dis harde wêreld, maar ’n streek waar veldblomme en diamante ewe veel vonkel. ’n Streek waar die taal én uitspraak enig is wanneer daar na Afrikaans gekyk word met Namakwaland-Afrikaans en Griekwa-Afrikaans wat beide uit Oranjerivierafrikaans ontstaan het en waar Khoi-tale ’n groot invloed gehad het. Namakwaland-Afrikaans se invloed strek selfs tot in die suide van Namibië.

Namakwaland is oorspronklik deur die Namas, een van die Khoi-stamme, bewoon. Trekboere op soek na weiding vir hulle vee, het omstreeks 1662 die area bereik en in 1685 het goewerneur Simon van der Stel en sy ekspedisie die area verken in hulle soeke na koper. Dit sou egter twee eeue neem voor die kommersiële ontginning van koper ’n werklikheid geword het.

Namakwaland is nie ’n digbewoonde gebied nie en dit is moontlik een van die redes hoekom die Afrikaans wat deur alle bevolkingsgroepe gepraat word, baie eiesoortig is in uitspraak en idiomatiese taalgebruik. Dit is veral die oorronding van klanke, soos byvoorbeeld “speul” in plaas van “speel”, wat dit uniek maak.

Die TV-reeks
Die Manakwalanners was in 1993 ’n groot treffer en het vir kykers die taal en streek van naderby leer ken. Die reeks vertel die verhaal van die radioman Arnoldus Lodewyk “Nols” Labuschagne (Hans Strydom), aanbieder van die program Pitkos vir die kulturele fynproewer, wat saam met sy klankman Basjan van der Westhuizen (Pierre Knoese) die stofpad na Namakwaland vat om materiaal vir sy program in te samel. Daar kry hulle te doen met mense soos die Nukerks: Oupa Swartsak (André Rossouw) wat by sy weduweedogter Ma (Lida Botha) en haar kinders – Gertjie (Elizabeth Archer), Jakoba (Joanie Combrink), Johans (Michelle Burgers), Baba (Liesl de Witt) en Boerie (Jan Ellis) woon. Ander karakters was Connie Keffie (Marga van Rooy), oom Niekelaas (Limpie Basson) en Ta’ Lenie (Wilma Stockenström).

Die skrywer van die reeks, Johan van Jaarsveld, het in ’n onderhoud gesê dat die humor in die reeks in die taalgebruik opgesluit is. “Maar die humor is nie ten koste van die Namakwalanders nie. Daar word eerder met die stedelinge en hul maniertjies en ‘kanseltaal’ gespot.”

Om die uitspraak en taalgebruik so na aan die ware jakob te hou, is klankopnames van mense in die streek gemaak en bestudeer en is Tony Links se boek
So praat ons Namakwalanners as bron gebruik.

“Vrinne! Alle mooi niggies en die neufs en die jintelman uit die Kaap en ou Basjan wat my sukke mooi pissallims oppie draadloos wil laat sing en die anner grootmeneer daar en myse eie familie en Soesara Parra, voorlat ik dalk nou van haar ga’sta’vergeet … Welkom-welkom-welkom! Ammal van julle is so baaije, baaije welkom! En noulat ons die baan geopen hit, is julle nog net baaije meer as welkom. Die orkes ôk, natuurlik!” sê Oupa Swartsak in die heel eerste episode. “Maar vrinne, julle is nie net welkom nie, julle moet vir julle ôk tuis sta maak! Daar’s gjimmerbier en vaaljapie; daar’s skuinskoek en daar’s jêmtert en daar’s braaivleis en vledkool en soutrib en rugstring en … ag my ou kop wil ôk nie verder nie.”

Dit was nie net
Die Manakwalanners wat gesorg het dat hierdie mooi streekstaal aan ’n groter gehoor gebring is nie. Die TV-reeks Nêrens, Noord-Kaap, wat soos Die Manakwalanners in Nieuwoudtville verfilm is, se eerste seisoen is in 2021 uitgesaai met Deel II wat in September vanjaar op kykNET begin het. Dan is daar die sanger en liedjieskrywer Pieter van der Westhuizen – hy het in 1986 saam met Gavin Davis die ATKV Crescendo-kompetisie gewen – en die immergewilde Ouma Grietjie van Garies met haar “Lekker ou Jan” wat mense aan die skoffel gekry het.

Een van Pieter se gewildste liedjies, wat ook deur Theuns Jordaan en Dr. Victor opgeneem is, is “Wie se kjênd is jy?”

Wie se kjênd is jy
Wat my so verlei
Weet jou ma van jou
Wat so aan my klou

Het jy jou pa gevra
Of jy mag ringe dra
Jou neusie is nog nat
En jy wil aan my kom vat

Laat staan tog net jou stoutigheid
Jy soek na moeilikheid
Laat staan tog net jou stoutigheid
Jy soek na moeilikheid

Die gewilde storieverteller Jan Spies, wat in Mariental in Namibië gebore is, se uitspraak het beslis ook ’n invloed van Namakwaland-Afrikaans gehad.

Luister en kyk hier na een van die stories wat hy op Spies & Plessie vertel het: https://www.youtube.com/watch?v=lDfE9-cTFyQ&list=PLf_DOyj-a6eXVd1ORXF1C1-oT3I2MHLfP

Luister hier na Pieter van der Westhuizen se liedjie “Wie se kjênd is jy?”: https://www.youtube.com/watch?v=yQlCqvq0b2A

Kyk hier na Pieter van der Westhuizen wat “Bokkie sê my reg” op Spies & Plessie sing:
https://www.youtube.com/watch?v=Tnx56PBrgq4

Kyk hier na ’n insetsel oor Ouma Grietjie Adams van Garies:
https://www.youtube.com/watch?v=fFsxS3xk-BA