Prof. Hans – ’n Legende en sy enorme impak op Afrikaans
Jana Cloete, ’n oudstudent van Prof. Hans du Plessis, gee eer aan hierdie man wat so ’n reuse-invloed op haar lewe gehad het.
Ek ry vanmiddag huis toe uit die stad uit. Daai kuspad al langs Tafelbaai op in die rigting van Bloubergstrand, so met Tafelberg linksagter my.
En skielik oor RSG hoor ek dit. Prof. Hans se stem. Dis ’n vinnige advertensie om môreaand Skrywers en Boeke te luister, want dan saai hulle ’n program uit oor Hans du Plessis se lewe en werke.
Daai stem van ‘n doodgewone mens, sonder aansit en fieterjasies en opstêrsgeit. Klokhelder, soos sy stem was, ligvoets oor die klanke.
Maar die ding van Prof. Hans was, hy was allesbehalwe doodgewoon.
Ek bars so in trane uit oor sy afsterwe en kan skaars die karre voor my uitmaak. En dis ’n vreemde gevoel, want dis nie soos die onlangse sterftes waarmee ek gekonfronteer is nie. Hy is nie my pa nie, en hy is nie ’n vriend nie. Hy was my dosent.
Maar my hart PYN, so in die diepste gat van die hart se pyn, DAAI seer.
Want hier is die ding. Prof. Hans as dosent en as mens was vir my beide ’n pa en ’n vriend. Ek het al die pad Potchefstroom toe gegaan om daai tyd nog aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys te studeer (die skrille gedagte, want ek het gedink ek is nie hul tipe student nie, en hulle nie my vibe nie). Maar ek het slegs om een rede gegaan. EEN REDE. En dit was om Skryfkuns voorgraads te loop. Die enigste universiteit wat Skryfkuns ook voorgraads aangebied het, nie net nagraads nie.
Daai eerste dag in die Skryfkunsklas. SKRS111. Prof. Hans stap in en betrag ons eerstejaars so. Raait, sê hy. Nou staan elkeen van julle op en sê vir my jou naam en hoekom jy Skryfkuns neem. Vinnig besef ek sy speletjie: ná elkeen se relaas raai hy vanwaar die student afkomstig is. Latertyd besef ek dis vanweë sy agtergrond met sy navorsing oor variasietaalkunde.
Hy kon fyn luister na aksente, na woorde, na die manier van praat. Dink jy aan hom, dan dink jy aan sy Griekwapsalms, onder andere.
Toe dit my beurt is, stap hy nader (om beter te kan sien, my kind – eers later sou ons uitvind dat hy byna niks kan sien nie en seker ook hoe sy gehoor so fyn ingestel kon wees), en betrag my. Jy, JY, is van die Oos-Kaap (nie so baie Oos-Kapenaars nie, die meeste neuk mos Stellenbosch toe).
Ja, Professor, sê ek.
Port Elizabeth, vra hy?
Ek lag, ja, Professor, van Port Elizabeth.
Watter hoërskool?
Framesby, Professor.
Oe gat, die skool met daai hoogdrawende juffrou?
Ek lag nou hard, ja, Professor, einste daai skool.
Uitstekende skool Hoërskool Framesby, sê hy, maar ek sal my nie uitlaat oor daai juffrou nie, ek is te ordentlik.
En hy draai om, bordkryt in die hand, met ’n ondeunde glimlag wat strek tot in sy blik.
En hy begin skryf op die bord. Die les begin: KILL YOUR DARLINGS.
En as nagedagte draai hy vinnig terug na my (ek het links voor gesit): “Jana van Port Eliesabet, jy kan my maar Prof. Hans noem”.
Prof. Hans het sy studente soos mense behandel, nie studente nie. Ek het die grootste agting vir hom gehad, vir daai rede, maar ook vir vele ander redes. Daar is heelwat herinneringe aan hom, wat so in my gedagtes maal soos ek huis toe ry, die see skitterblink vandag.
Meisiekind, gaan sit op jou GAT en SKRYF. Het hy my deurgaans toegesnou. Eendag so oor etenstyd stap ek saam met ’n medestudent of twee, en ons kom deur daai stegie langs die Jonge Akker neffens die kiosk waar Julia gewerk het deurgeskuur, en daar sit Prof Hans met sy groot vriend, PG du Plessis. Prof Haahns, roep ek bly uit, want dis nie aldag dat ’n dosent daar by die Jonge Akker sit nie. Jana Cloete, roep hy terug en trek my oor die reling nader en trek los en vertel aan sy groot vriend dat HIERDIE meisiekind KAN skryf. Sy moet net op haar GAT kom en dit blerriewil doen.
Prof. Hans het nog gesê ons honneursgroep van skryfstudente moet een Saterdag saam met hom by PG op sy plaas gaan potjie. Hoekom ons nooit daarby uitgekom het nie, dit berou ek tot vandag toe. Maar ek weet Prof. Hans potjie nou lekker saam met sy groot vriend PG daar up in the sky.
Een aand is daar ’n boekbekendstellingsgeleentheid by ’n restaurantjie op die Bult (dit was ’n plekkie wat nie lank gehou het nie, want daai spesifieke plek was vervloek, dit was ’n ruimte tussen Castillions en die blommewinkel. Geen plek het lank daar gehou nie. I not know why. Ek wonder of dit nog so is). Ek VERMOED dit was die bekendstelling van Prof. Hans se Splinters – ’n keur uit sy rubrieke. Maar ek kan verkeerd wees. Student se kind was nie altyd die beste van die spesie nie, ons was hoofsaaklik daar vir die gratis wyn, en natuurlik vir Prof. Hans self want hy was ’n held. Maar geld had ons nie om ’n boek te koop nie, ons het ook nie iets geëet nie. Ons het wel van die (gratis) wyn gedrink en na die tyd toe gaan span ons paar studente uit op die stoep by Castillions langsaan.
Nie lank nie toe die titterwei oor en verby is, kom neem Prof. Hans daar by ons plaas by die raserige studentekuierplek. Maar ons sit buite dat ons kan kyk wat die naglewe van die Bult bring – plus dis darem minder raserig as binne. Ek meen, ons taalstudente had darem ’n bietjie selftrots. Prof. Hans bum ’n menthol van my af, toe hy hoor dis ’n menthol wat ek rook (groot mêrrim mos). Sameswerend fluister hy, moenie vir my vrou sê nie, dan kry ek raas!
Pas klaar met my graad, raak ek heel onverwags en op ’n vreemde wyse lukraak ’n Afrikaansjuffrou by ’n hoërskool op Middelburg in die Transvaal. Maar net vir ’n kwartaal, my planne is eintlik Kaap toe, sien. Maar hulle had ’n juffrou nodig vir Afrikaans gee vir standerd 7’s en ek het daar gekuier by my vriendin, Bia. So kom dit toe dat ek vir ’n kwartaal in die sportveld se meisiesbadkamer gebly het met my klaskamer reg langsaan. Ek het ook ’n registerklas gekry. Standerd Sessers. Elke oggend het ek die oggend begin nie met skriflesing en gebed nie, nee, ek het dit op my geneem om die kinders te lei met ’n voorlesing van gedigte. Meestal was die Groot Verseboek my bybel.
Soms het ek darem bietjie met hulle gekerk:
“So lief het die Jirre die hele mense gehet
lat hy nou Hy se Kjent gekom gestier het
solat dies wat in Hom glo en vi Hom bid,
vi ewag innie hoge jimmel in kan gat sit”
– Hans du Plessis
Ek onthou die voorgeskrewe boek vir daai jaargroep was Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou. Daai kinders in die Tegniese Skool op Middelburg, het hulle skielik in die wonderwêreld van Potchefstroom bevind. Man, ek het vertel van die laning eikebome. Kaart geteken van die dorp. Die lug van die Wes-Transvaal, en die wind in Augustusmaand. En ek het hulle vertel van die skrywer van hierdie boek. Wat op daardie oomblik besig is in sy kantoor met al die baie boeke om hom. Waar hy soms in Lover’s Lane afstap, en met elke tweede student eers ’n praatjie voer. Daarna wou al die kinders ook opsluit eendag op die PUK gaan swot.
Enkele kere het ek die heerlikheid gehad om Prof. Hans weer raak te loop wyl ek mens loop raak het. Een jaar gaan wys ek Potchefstroom vir Wynand, en ons Aardklop bietjie met shows, en haelstorms in Tomstraat, en Die Vyand Mampoer van Oom Boet Schoeman.
Van voor kom Prof. Hans en Tannie Magdaleen aangestap. Omdat hy nie kon sien nie, was dit ons almal se gewoonte om onsself aan te kondig as jy met hom praat. Altyd maar so as jy sy kantoor binnestap by die Skryfskool daar in die Frans du Toit-gebou. Die Franna du Twa.
“Prof Haahns, dis Jan-” en dan maak hy vir my klaar met “-a Cloete”.
So was dit hierdie snikhete dag in Oktobermaand op Potchefstroom, tussendeur die geroesemoes van stalletjievreters en uitbundige gillers en backtrack Afrikaanse musiek as habitatklanke, en Prof. Hans en Tannie Magdaleen kom van voor aangestap.
“Prof Haahns, dis Jan-”
“-a Cloete!” roep hy uitbundig uit, bly, en ek is nog meer bly.
’n Keer gaan ons vir ’n koffie, ek en hy en Dr. Franci, by die Woordfees in Stellenbosch se botaniese tuine. Die praat was sonder ophou. Hy vertel my van sy nuutste roman wat toe bekendgestel word, kinderlik opgewonde en tree my tegelykertyd gemaak kwaai aan oor ek dan nog nie op my GAT gaan sit het nie.
Die laaste keer toe ek hom sien, ’n jaar gelede by die Veldsoiree op Cradock. Prof. Hans het ’n kortkursus in prosaskryf aangebied.
Ek bly in die hotel waar die hele naweek se opskop plaasvind, en simpel genoeg dog ek dié klas sal ook in die hotel aangebied word, ek kan dus op die nipper net uit die bed uit rol. Laat mens nou so klinkklaar kan terugkeer na ou studenteweë.
Klokslag 09:00 bars ek by die vertrek in waar die kursus dan nou ook sou plaasvind. Foute en floute. Ek is by die verkeerde lokaal. Dis waar die poësiekursus aangebied word. Ek soek vir Prof. Hans, roep ek uit. Nee, hy is by een van die huisietjies in die straat af. Een van die Tuishuise.
Natuurlik toe die huisie op die END van die straat, aan die einde van die wêreld. My 40-jarige potsierlikheid snel die Karoostraat af (vroegoggend reeds warm), en ek probeer ongemerk laat die klas insluip. Prof. Hans staan voor en hy grinnik, dik van die lag soos sy manier maar is.
Teetyd stap ek na hom toe om te gaan groet, “Prof Haahns, dis Jan-”
“-a Cloete. Ek het jou naam vooraf op die lys gesien en toe weet ek: daar is net een Jana Cloete!”
Hy het daai dag daai hele kortkursus uit sy kop gedoen, sonder een stukkie papier of nota voor hom. Sonder skyfies of Powerpoints of dies meer. Net hy en ’n stuk papier teen die muur waar hy soms iets geskryf het (en dan askies vra vir sy handskrif oor hy mos eintlik blind soos ’n mol is). Elke woord van hom het gewig gedra. Geen fluff nie. Geen uhms of aaa’s nie. Elke woord saamgesnoer in ’n sin met trefkrag. It was a master class. Die ander mense het daar oorbluf gesit. Aan sy lippe gehang en oorbluf. Want hy was nie meer ’n kuiken nie. Hy en Tannie Magdaleen het die langpad van Huis Eikelaan op Potch aangedurf Oos-Kaap toe. Maar sy denke en sy praat was vlymskerp. Hy het die teorie en die praktiese uitvoering daarvan stuk vir stuk uiteengesit, without missing a beat. Sit ek daar, dik van die trots, dis MY prof daai. Sê ek vir Adam, my ou vriend van desjare (van nog voor ek gaan swot het) wat langs my sit: dis MY prof daai.
Ek vermoed Prof. Hans het baie studente oor die jare gehad wat so oor hom voel. Dis ONS prof daai.
Sien, die ding van Prof. Hans is – en ek vermoed hoekom ek die nuus van sy dood so moeilik vat – hy het ’n mens GESIEN. Hy kon nie mooi kyk nie, maar hy het GESIEN. Die invloed wat hy op my lewe gehad het, is enorm. Net in die mikrostorietjie van my eie lewe. Dan praat mens nie eers van die makroverhaal van sy invloed op Afrikaans en taalkunde en ’n leërskare studente nie.
As dosent was hy ’n vader en ’n vriend. ’n Meester van ’n mens, my Prof. Haahns.
- Jana Cloete werk as vertaler en taalpraktisyn in Kaapstad.