fbpx

AFRIKAAPS

’n Proefiet van Jesus djý?
’n proefiet?
djy moet djou palys-hys
djy moet djou aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sêd smile van djou
en djou tears
en djou woerewarra op die pulpit
moet djou skorrelsvol braai-atappels en -vleis?

djou hys ’n woestyn? nou sal mens djou verbeel!
en hoe lyk dit met jou kale pote vi’ daai streamline ding
en hoe lyk dit djou toega vi’ die vel van ‘n kameeló
en hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi’ sprinkane en wille hiening?

Só het Adam Small in sy gedig “Doemanie” in die digbundel Kitaar my kruis (1962) geskryf.

Hy was nie die eerste bruin digter wie se werk in Afrikaans gepubliseer is nie. Voor hom was S.V. Petersen (1914 – 1987) en P.J. Philander (1921 – 2006). In die boek Die Afrikaanse Letterkunde in Beeld (saamgestel deur AP Grové en PJ Nienaber, gesamentlik uitgegee in 1973 deur J. L. Van Schaik en Tafelberg-uitgewers) is daar ’n foto van Petersen met die byskrif: “S.V. Petersen (geb. 1914). Met sy werk kry die Kleurling stem in die Afrikaanse poësie. Van sy digbundels is Die enkeling (1944) en Die kinders van Kain (1960); hy publiseer ook ’n roman: As die son ondergaan (1945).”

In sy gedig “Slotsom” skryf Petersen:

Sug ek nog om septer,
Streef ek nog om kroon?
Dis uitvaartsdag
Nog môre dalk,
En ’n grafskrif my tot kroon.

Buig dus voor Pilatus;
Kniel voor Golgota!
’n Weinig nog
Die kruisweg dalk,
En ’n weinig nog te dra.

Blonde haar en blanke huid,
Kan kroon, kan septer mee?
(Die lykdraers trap ’n dodemars uit)
Die donker wag vir jou, vir my, al-twéé.

Oor Adam Small staan daar in Die Afrikaanse Letterkunde in Beeld (1973) geskryf: “Adam Small (geb. 1936), skryf, dikwels in afwykende taal en spelling, aktuele poësie waarin die Kleurling se gevoel van bitterheid en frustrasie verwoord word.”

Vir Small was juis hierdie “afwykende taal en spelling” belangrik en in die voorwoord van sy bundel Kitaar my kruis skryf hy: “Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat dra … ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal.”

Die geskiedenis van Kaaps/Kaapse Afrikaans/Afrikakaaps kom egter lank vóór dit en is onlosmaakbaar deel van die geskiedenis van Afrikaans; een van die fondasies waarop hierdie taal van ons gebou is.  “Was dit nie vir die slawe en die Khoisan nie, sou Afrikaans nooit bestaan het nie,” het Max du Preez in 2018 gesê.

Kaapse Afrikaans is volgens die taalhistorikus Christo van Rensburg as drie van die soorte Afrikaans (Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans) gevestig, al drie met ’n Nederlandse grondslag, maar elkeen tog met sy eie dialek.

Slawe uit die Ooste kon, behalwe hulle moedertaal, ook Maleis-Portugees praat. Toe die Nederlanders die Portugese se handelsgebiede afgeneem het, het Afrikaans mettertyd Maleis-Portugees as die voertaal aan die suidpunt van Afrika oorgeneem.

“Baie slawe kon ook Maleis praat en skryf,” skryf Daniël Hugo in Halala Afrikaans (Protea-uitgewers, 2011). “Die Moslemskole het aanvanklik deur medium van Maleis onderrig gegee. Die invloed van dié taal is opvallend in die uitspraak van die Nederlands/Afrikaans j as dj, soos in djy en djille (vir jy en julle).”

Van die eerste Afrikaanse manuskripte was Moslem-geskrifte in Arabiese letters wat reeds in 1807 in die Kaap geskryf is en later het dit al meer ’n skryf- en praattaal geword. Woorde wat ons vandag nog gebruik, is onder meer bredie, blatjang, sambreel, piesang en kierand. Die bekendste Afrikaanse woord wat uit Maleisië kom, is “baie” wat van die woord banjak kom.

Draai die horlosie ’n hele paar dekades vorentoe en Kaaps is steeds onlosmaakbaar deel van Afrikaans.

“My Afrikaans issie klank vannie Kaapse Vlakte – liewendag en vol weestand, soesie mense self. Is ’n taal van vertel, van opstaan, van resist, van krag gie,” skryf Chase Rhys. “’n Taal wattie stories van ôsse communities echo, ennie lag van ôsse kinnes vashou. Is ’n taal wat, ongeag sy geskiedenis ennie pogings om dit te marginalize, bly groei en thrive. Deur Afrikaans kan ek stem gie annie stories wat dalk andersins verlore sou gaan, die verliede met die hede verbind, en ’n toekoms skep waa elke deeltjie van ôsse wese erken en gevier wôd.”

Om weer te vestig wat prof. Adam Small gesê het: “Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal.”