fbpx

Giep van Zyl

Nasionale koördineerder: Afrikaans 100


Hoekom is hierdie viering belangrik?

Afrikaans se wortels lê natuurlik baie diep. Daar was vele hoogte- en laagtepunte en die taal het ’n unieke pad van wording gestap, met ’n evolusie wat steeds besig is om te ontvou. Ons wil met hierdie veldtog ’n omvattende, volledige en veelkantige viering van Afrikaans van stapel stuur. Dit is ’n omvangryke projek wat fokus op die breë spektrum van Afrikaans se gebruikers, omdat húl stories, keuses en gebruike ten nouste met die taal in al haar vorme verweef is. Die ontwikkeling van Afrikaans in al haar fasette en wêrelde – wat byvoorbeeld die kunste, media, sake en die akademie insluit – sal deel hiervan vorm. Ons wil hiermee terugkyk na Afrikaans se inklusiewe komvandaan, maar ook vorentoe kyk na die taal se potensiaal en geleenthede binne die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap en die res van die wêreld. In kort, ons wil vier, verenig en omarm!

Wat is volgens jou Afrikaans se grootste mylpaal?

Die feit dat Afrikaans in ’n relatiewe kort tydperk ontwikkel het tot ’n wetenskapstaal, ’n regstaal, ’n akademiese taal en op vele ander terreine ’n nuwe woordeskat geskep het, haar eie reëls gevestig het en steeds verander en ontwikkel. Verder is die gebruik van die verskillende dialekte en variëteite opwindend en dit maak die taal oop en toeganklik vir al haar diverse sprekers.

Wat is jou gunsteling-sêding in Afrikaans?

Daai’s reg!

Hoe lyk Afrikaans se toekoms?

Dis maklik om te sê solank mense Afrikaans praat, sing of lees, sal die taal oorleef en dit is tot ’n sekere mate waar. Ons as Afrikaanssprekers moet geleenthede om dit te doen skep en daaraan deelneem, maar dit is ook belangrik dat die hoër funksies van Afrikaans behoue bly en uitgebou word. Ek dink ook die verskillende variëteite en die diverse Afrikaanse taalgemeenskap verryk die taal, verenig die sprekers en laat die taal groei.

Suid-Afrikaners, en Afrikaanses, is plesierige mense. Hoe sal jy graag wil sien moet hulle Afrikaans se eeufees as amptelike taal vier?

Ons wil nie net partytjie hou nie – dit is egter ook ’n belangrike deel van die Afrikaans 100-veldtog – ons wil graag almal se stemme hoor. Ons wil elke Afrikaansspreker die kans gee om deel te wees hiervan.

Ons veldtog staan op drie bene:

  • Dis belangrik om die komvandaan van Afrikaans te erken, meer te wete te kom daaroor, en erkenning te gee aan die diverse oorsprong van Afrikaans.

  • Die afgelope 100 jaar het die taal ver gevorder en ons kan dit vier as ’n mylpaal in die hele reis van Afrikaans. Die taal het ongelooflike hoogtes bereik en ons kan dit vier, en terselfdertyd kan en moet ons die taal gebruik om mense bymekaar te bring. Ons vier ʼn taal met ’n gedeelde herkoms.

  • Die derde been is wat ons doen met die taal vir die volgende 100 jaar. Hoe voel die jongmense oor Afrikaans, hoe gebruik ons die fondament van hierdie 100ste viering om verder aan die huis van Afrikaans te bou?