Chester Meyer
Wanneer Griekwa-Afrikaans sing
Chester Meyer is ’n kind van die Karoo en die geskiedenis, en veral die kerkmusiek, van die Griekwas lê hom na aan die hart.
Vertel ons meer van jouself. Waar lê jou wortels, waar was jy op skool, wat was jou eerste instrument en wie het jou aangemoedig om musiek te beoefen?
Ek is Karookind van Colesberg. Ek is nog steeds baie trots om met die dorp en sy mense geassosieer te word. Ek was so agt of nege toe ek die brandende begeerte gekry het om klavier te kan speel. My ma kon nie meer die gekerm uithou nie en het met groot moeite iemand gekry om my te leer. Ek was onmiddellik betower en het dag en nag geoefen. Op hoërskool het die musiekjuffrou, Ada Malherbe, my aangemoedig om nog harder te werk en ook baie geleenthede vir my gegee, soos om die skoolkoor te begelei en selfs te dirigeer. Ek het ná skool musiek by Kovsies studeer en ná die BMus ook ’n onderwysdiploma. Die laaste 15 jaar het ek twee honneursgrade gedoen, een in koorleiding en een in onderwysbestuur asook ’n MMus in etnomusikologie. Ek is tans aan die beginfase van my PhD in himnologie. Ek is meeste van die tyd ’n musiekonderwyser, maar ek is ook ’n orrelis en improviseer graag op die orrel. My grootste vreugde is om ’n gemeente te begelei wat uit volle bors sing.
Jy het jou meestersgraad oor Griekwa-kerkmusiek as ’n unieke kultuurverskynsel in Suid-Afrika gedoen. Wat maak dit so uniek?
Die gesange wat die Griekwas, of meer spesifiek die Le Fleur-Griekwas sing, is besonders omdat dit in ’n baie spesifieke Griekwa-styl gesing word. Nie net die woorde en melodie nie, maar ook die manier van sing het behoue gebly vanaf die stigting van die groep meer as 120 jaar gelede. Die kontras tussen die grootliks Westerse manier van doen, maar tog ook uniek Suid-Afrikaans, is interessant. Dit is Westerse gesange in elke sin van die woord, maar by die uitvoering daarvan kom daar ’n outentiekheid voor wat deur die klankkleur en harmonie tog ook inheems Afrika is. Die Griekwas noem dit nie kerkmusiek nie. Hulle praat van “die Griekwa-lof”. Lof word as ’n werkwoord gebruik, byvoorbeeld “die volk het die hele dag gelof”.
Waar het jou belangstelling in Griekwa-kerkmusiek begin?
Ek was van kleins af gefassineer met die geskiedenis van my Griekwa-familie. Later het die gesange wat hulle so graag sing, my ook begin interesseer. Hulle is mense wat nie moeg raak vir sing nie, hulle kan op enige plek net wegval met ’n gesang en dan sing almal saam. Ek was altyd verbaas dat hulle al die verse se woorde uit hulle kop ken. As ’n volwassene het ek net al hoe meer besef hoe besonders en uniek dit is.
Wat is vir jou die mooiste woorde in Griekwa-Afrikaans?
Die Le Fleur-Griekwas is nie streeksgebonde nie. Hulle het twintig takke oor die hele land. Hulle praat wel slegs Afrikaans in die kerk, hoewel liedere ook in Engels en Hollands gesing word. Deur die jare het ek wel sekere “eie” woorde gemerk wat vir my mooi is. Een daarvan is “volklikheid”, byvoorbeeld ons as Griekwas moenie vergeet van ons goddelikheid en ons volklikheid nie of om ’n Griekwa te wees, moet jy jou volklikheid in jou hart voel.
Wat moet gedoen word om Griekwa-Afrikaans en daarmee saam Griekwa-kerkmusiek te groei en te beskerm?
Die embleem van die Le Fleur-Griekwas is die kanniedood-vetplant en hulle het ook ’n gesang waar die koorgedeelte lui: Die Griekwa kanniedood! Ek dink hulle behoudendheid moet bekendgemaak en bewonder word. Dit gee ’n trots onder die volk wanneer mense hulle eer vir hul getrouheid aan die Griekwa-saak te midde van ’n veranderende wêreld. Ek weet dat die blootstelling wat hulle hierdie jaar op RSG gehad het vir hulle as ’n groep ongelooflik baie beteken het en dat dit ook vir Suid-Afrikaners en veral ander Afrikaanssprekendes bekendgestel het aan ’n groep mense met ’n unieke kultuur.
Hoe verskil Griekwa-kerkmusiek van ander Afrikaanse kerkmusiek?
Die grootste verskil vir my is dat die melodie en woorde baie oud is en helfte daarvan steeds in Nederlands gesing word. Dit is baie formeel en statig, altyd meerstemmig, en met ‘n kenmerkende “skerp” klankkleur wat tot in jou siel vibreer.
Wat is jou persoonlike gunsteling wanneer dit by Griekwa-kerkmusiek kom?
Die Griekwa verbondslied bly spesiaal – “O God mijn God, gij aller vorsten Heer”. Dit is ’n antieke melodie, met ’n beryming van Psalm 145 wat ook in Nederland steeds gebruik word. Dit is die Griekwa se verbondslied sedert 1903 toe AAS Le Fleur die eerste (hulle profeet en opperhoof) dit gesing het nadat hy uit die tronk vrygelaat is en beloof het om sy lewe daaraan te wy om die “dooie beendere van Adam Kok bymekaar te maak”. Le Fleur se liefde vir musiek, en spesifiek gesange, het veroorsaak dat sy volgelinge vandag nog steeds sang as ’n integrale deel van Griekwa-wees beskou.
Wat is vir jou die interessantste staaltjie wanneer dit by Griekwa-kerkmusiek kom?
Ek het in my studie ook gewys daarop dat die gesange nie net die groter volk beïnvloed nie, maar dat die “lof” vir elke Griekwa ’n diep persoonlike ding is. So het ek dan beleef hoe twee susters, antie Rosie en Ousie Ting-Ting, mekaar die eerste keer ná meer as ’n jaar weer gesien het. By die ontmoeting het hulle eers ’n loflied gesing terwyl hulle mekaar vashou en trane oor albei se wange rol. Ek het op daai oomblik geweet die “lof” loop diep en sterk deur hulle are en dis iets waarvan die res van die wêreld moet weet!
Luister hier na die dokumentêre reeks oor Griekwa-kerkmusiek wat Chester aangebied het en wat op RSG uitgesaai is: