

Afrikaans Verjaar en jy's genooi
Afrikaans Verjaar en jy's genooi
Afrikaans vier in 2025 eeufees as amptelike taal. Ons gebruik Afrikaans al vir honderde jare, maar op 8 Mei 2025 vier ons 100 jaar as amptelike taal. Ons skop op 8 Mei 2024 af met ’n jaar se plesierigheid tot 8 Mei 2025 wanneer die taal feestelik in die Paarl by die Taalmonument gevier gaan word. Waarvoor wag jy? Word deel van Afrikaans 100 se projekte en feesvieringe. Almal is genooi!
Afrikaans vier in 2025 eeufees as amptelike taal. Ons gebruik Afrikaans al vir honderde jare, maar op 8 Mei 2025 vier ons 100 jaar as amptelike taal. Ons skop op 8 Mei 2024 af met ’n jaar se plesierigheid tot 8 Mei 2025 wanneer die taal feestelik in die Paarl by die Taalmonument gevier gaan word. Waarvoor wag jy? Word deel van Afrikaans 100 se projekte en feesvieringe. Almal is genooi!
Waarvoor ons staan
Visie en Missie
’n Inklusiewe viering wat alle Afrikaanssprekendes gelyke geleentheid bied om deel te word en die belangrikheid van elke Afrikaanssprekende se rol in die voortbestaan van Afrikaans uit te lig.
Ons doel is om meer as 1 000 Afrikaanse organisasies, onderwysinstansies, gemeenskapsgroepe, ondernemings en individue feesdeelnemers te maak en dat elkeen op hulle unieke manier hierdie Afrikaanse mylpaal vier in die voorloop, tydens die fees en/of in die afloop van die feesjaar.
Projekte
- ’n entrepreneursprojek wat ten doel sal hê om klein ondernemings, wat onder meer Afrikaans as voertaal en bemarkingstaal gebruik, bekend te stel en blootstelling aan hulle te gee;
- ’n boek vir jonger kinders waarin hulle oor die geskiedenis van Afrikaans kan leer – van die heel eerste geskrifte honderde jare gelede asook hoogtepunte en mylpale deur die jare;
- ’n koorprojek vir laer- en hoërskole asook volwasse kore waar nuwe koorwerke as deel van hulle repertorium in 2025 opgevoer kan word;
- ’n skolekompetisie waar skole op sosiale media video’s vir en oor Afrikaans kan plaas;
- talle leesprojekte wat uitreikaksies insluit; en
- ’n digbundel met die werk van jong digters, spesifiek in die verskillende variëteite van Afrikaans.
Wie is reeds betrokke?
So maak ons VRIENDE
DIE OORSIGKOMITEE
Die oorsigkomitee van Afrikaans 100, met Theuns Eloff (voorsitter: Dagbreektrust) as voorsitter en Michael Jonas (direkteur: Afrikaanse Taalmuseum en -monument, Paarl) as ondervoorsitter, aan die stuur, is vroeër vanjaar gevestig. Ander persone op die komitee is Astrid de Vos, Diana Ferrus, Werner Human, Susan Lombaard, Karen Meiring, Sinki Mlambo, Hendrik Theys, Merlyn van der Rheede en Heindrich Wyngaard met Conrad Steenkamp en Ria Olivier as die sekretariaat.
Giep van Zyl, voormalige hoof van Aardklop, is onlangs aangestel as die nasionale koördineerder, met René Arendse, ’n bekende motiveringspreker en opleier van veral vroue-entrepreneurs, wat as nasionale adjunk-koördineerder aangestel is.
Daar is verder ook ’n span kundiges wat as domeinsameroepers met die reëlings gaan help. Onder hulle is kenners in die onderwys, die kunste, studentelewe, die sakesektor, die uitgewersbedryf en die media.
Meer oor afrikaans 100
ʼn Wye en verteenwoordigende groep Afrikaanse organisasies, onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), stuur ʼn veldtog van stapel om Afrikaans se eeufees te vier.
Dit is ʼn gekoördineerde poging van medewerkers en ondersteuners om ʼn inklusiewe feesjaar te vier wat Afrikaans in al die variëteite, geure en kleure bymekaarbring en die belangrikheid van elke Afrikaanssprekende se rol in die voortbestaan van Afrikaans uit te lig.
Die inisiatief het die volgende doelstellings om hierdie mylpaal te gedenk:
- Ons vier die bestaan van Afrikaans as amptelike landstaal as ʼn mylpaal binne ‘n baie langer bestaan, as ʼn groep mense wat lief is vir die taal.
- Ons ondersteun Afrikaans as ʼn inklusiewe taal met ʼn diverse herkoms wat deur mense van alle rasse, etniese en kultuurgroepe gepraat en gebruik word.
- Ons verbind onsself tot die groei van Afrikaans en gee met trots erkenning aan die bydrae wat dit tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap maak sonder om in politiek betrokke te raak.
- Ons vier die bydraes wat Afrikaans op talle gebiede maak, soos die kunste, literatuur, onderwys, musiek en akademiese navorsing (om maar ʼn paar te noem).
Kom vier, ondersteun, erken en bou saam met ons, want lank sal ons moedertaal lewe!
Nuusbrief
Teken in op die opwindende maandelikse Afrikaans 100-nuusbrief
en staan ʼn kans om lekker pryse te wen.