

UIT DIE MOND
Uit die mond: ’n Konsert soos geen ander
Met van die grootste name in Afrikaanse musiek, begelei deur ’n lewendige orkes, en van die beste liedjies uit die musiekskatkis, gaan Uit die mond ’n konsert wees wat nie misgeloop moet word nie. Die kunstenaars is Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Frazer Barry, Emo Adams, Lynelle Kenned en Nicole Holm.
Die regisseur, Bianca Flanders-Balie, vertel meer.
Hoe het jy te werk gegaan om die konsert bymekaar te sit?
Ek en Melissa van der Spuy, die musiekregisseur, het besluit dat ons ’n bietjie iets anders wou doen. Dit gaan ’n groot konsert wees met baie teater-elemente. Ons wil die taal vier in al die maniere en uit al die monde wat dit gepraat word. Vir dit om te werk, moes ons kyk na verskillende kunstenaars, digters en skrywers.
Dean Balie (akteur, sanger en Bianca se man) is ons draaiboekkonsultant en het gehelp om die teks en die liedjies bymekaar te sit. Melissa het ook onderhoude gehad met die kunstenaars oor wat hulle gunstelingliedjies in Afrikaans is.
Hoe is daar op die kunstenaars besluit?
Omdat ons met so ’n wye verskeidenheid musiek werk, was dit belangrik dat ons ’n groep veelsydige kunstenaars moes kry. Dit is hoekom ons so ’n ongelooflike span bymekaar gekry het.
Watter liedjies gaan deel van die konsert wees?
Ek wil nie te veel weggee nie, maar van die groot treffers soos “Sonvanger”, “Hillbrow” en “Ghoema” is beslis daar, asook ’n paar fantastiese oorspronklike liedjies.
Wat kan mense verwag?
Dis nie jou tipiese konsert nie. Ons wil werklik die taal eer in al sy vorme en daarom is digkuns ook deel. Dit is musiekteater op sy beste
Wat is jou gunsteling woord in Afrikaans?
Poplap.
Wat is jou gunsteling-liedjie in Afrikaans?
Dis ʼn gedig wat my man, Dean, getoonset het – I.D. du Plessis se Katrina. Ek is ook mal oor Coenie se liedjies.
Jy is aktrise, sangeres, skrywer en regisseur. (Bianca se Pampoenpit-kinderboeke is onder meer in ’n kinderproduksie omskep wat vanjaar ’n Fleur du Cap-toekenning gewen het.) Is daar een waarvan jy meer hou as ʼn ander?
Ek is verskriklik lief vir al die verskillende rolle, maar op die oomblik is my gunsteling regie en skryf.
Jy en Dean het ouers geword toe julle seuntjie, Manu, in Januarie gebore is. Hoe beplan jy jou lewe rondom ma-wees?
O, ek weet nie! Ek leer nog. Elke dag is anders, met nuwe uitdagings.
Wat hoop jy is mense se reaksie op Uit die mond uit? Het jy ʼn boodskap met die konsert?
Ek wil hê mense moet met vreugde en trots ná die konsert uitstap en weet dat hulle op die verhoog verteenwoordig is. Die konsert is pret en nostalgies, soms ’n bietjie seer, en hopelik snaaks.
Waar het jy aan die titel gekom?
Die titel self het ’n dieper betekenis. Ons sê wel “uit die mond”, maar dit is beslis ook “uit die hart”.
Uit die mond word vervaardig deur Afrikaans 100.
Durbanville
10 Mei 2025 – 19:30
11 Mei 2025 – 15:00
Hoërskool Durbanville Ouditorium, Langenhovenstraat, Durbanville
Geskik vir die hele gesin
Goue sirkel-kaartjies is R265 en ander is R200
Kaartjies beskikbaar by tixsa
Pretoria
28 Mei 2025 om 19:30
29 Mei 2025 om 19:30
Atterbury-teater, Daventrystraat 4, Lynnwood Manor, Pretoria
Geskik vir die hele gesin.
Goue sirkel-kaartjies is R265 en ander is R200
Kaartjies beskikbaar by seatme