fbpx
Afrikaans is volgens die sensus van 2022 die derde grootste taal in die land – naas isiZulu (24,4% ) en isiXhosa (16,3%) – met meer as 6,5 miljoen, oftewel 10,6%, moedertaalsprekers in die land.
Die eerste onderwyskollege is in 1838 by Suid-Afrika se oudste sendingstasie, Genadendal, begin. Drie van Suid-Afrika se grootste universiteite was aanvanklik skole.
Die drukpers by die Morawiese Sendinggenootskap op Genadenal het in 1859 De Bode, ’n Christelike maandblad, publiseer. Die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, verskyn op 15 Januarie 1876. Volgens die ABC-sirkulasiesyfers vir die derde kwartaal van 2023 is twee van die top-5 gedrukte koerante in Suid-Afrika Afrikaans – Die Burger in die tweede plek en Beeld in die vierde plek. Rapport is die derde grootste Sondagkoerant in die land. Huisgenoot is vir jare reeds die topverkoper tydskrif oor alle tale in Suid-Afrika. Sarie is die grootste vrouetydskrif in die land met Kuier in die tweede plek. Die twee grootste Afrikaanse digitale nuusplatforms, Maroela Media en Netwerk24, het elk sowat 2 miljoen lesers per maand en tel onder die grootste nuusplatforms in Suid-Afrika.
Die eerste Afrikaanse kookboek is deur E.J. Dijkman, die dogter van ’n Engelse seekaptein, geskryf. Di Suid-Afrikaanse kook-, koek- en resepteboek het in 1891 verskyn. Kook en Geniet deur S.J.A. de Villiers het die eerste keer in 1951 verskyn en het sedertdien meer as ’n miljoen eksemplare verkoop.
De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst deur Afrikaners word in 1909 gestig met die hoofdoel om Afrikaans as hoëfunksie taal ten doel te stel. Dit bestaan steeds (as die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) en daar word elke jaar in verskeie kategorieë eerbewyse oorhandig. Van die wenners van die Hertzogprys vir letterkunde sluit in Adam Small, Breyten Breytenbach, N.P. van Wyk Louw, Antjie Krog, Reza de Wet en Etienne Leroux.
Privaat uitsaaiers begin in 1924 met radiouitsendings in Afrikaans en Engels in Kaapstad, Johannesburg en Durban. Die Afrikaanse Diens van die SAUK word op 27 Oktober 1937 bekendgestel. Vandag het RSG (volgens Ipsos) byna 1,3 miljoen luisteraars en word Afrikaans ook gehoor op streekstasies soos Jacaranda 94.5, OFM en Kfm. Daar is meer as 80 gemeenskapsradiostasies landswyd asook internetradiostasies wat gedeeltelik of slegs in Afrikaans uitsaai. Hierdie radiostasies het ‘n gesamentlike luisteraarstal van sowat 1,4 miljoen.
Daar word in 1926 begin werk aan ’n Afrikaanse woordeboek en ’n Afrikaans/Engels-woordeboek verskyn die eerste keer in 1930. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) verskyn die eerste keer in 1965 met die sesde uitgawe wat in 2015 gepubliseer word. HAT6 beslaan 1 636 bladsye. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is die grootste verklarende Afrikaanse woordeboek en word deurentyd bygewerk. So is daar die afgelope paar jaar woorde soos awê (of aweh), sjoekran, chakalaka en komvandaan bygevoeg.
Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling verskyn in 1933. Die Bybelgenootskap het ook in 1953, 1983 en 2023 nuwe verwerkings en vertalings van Afrikaanse Bybels vrygestel.
Die FAK Sangbundel se eerste weergawe verskyn in 1937. Verskeie hersiene uitgawes het daarna verskyn en in 2012 is liedjies van onder meer Anton Goosen, Koos Kombuis en Laurika Rauch by die FAK Sangbundel Volume II gevoeg.
Tussen 1942 en 1959 word Afrikaans by vier universiteite as wetenskapstaal gevestig, maar Petronella van Heerden, eerste vroulike dokter in Suid-Afrika, het aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam reeds in 1923 die eerste Afrikaanse proefskrif in geneeskunde geskryf. Afrikaans word ook in die 1940’s en 1950’s gevestig in die staatsdiens, howe, letterkunde, rolprente en die uitsaaibedryf.