

FAK-Projekte
Afrikaanse vure brand hoër as ooit by die FAK
In 2025 gedenk Afrikaanssprekendes reg oor die land ons mooie moedertaal met die 100ste bestaansjaarviering van Afrikaans as amptelike landstaal en by die FAK brand die vreugdesvure behoorlik!
Die FAK werk sedert sy ontstaan in Desember 1929 onverpoos om die Afrikaanse taal en kultuur te bewaar en uit te bou, en dit is ’n wonderlike voorreg vir dié organisasie om vanjaar nie net Afrikaans se eeufees saam met ander organisasies te vier nie, maar ook op 100 jaar se mylpale voort te bou.
Barry Müller, die FAK se Nasionale Hoof van gemeenskap, geskiedenis en Ad Hoc projekte, sê hy is baie opgewonde oor die projekte wat vanjaar op dié organisasie se kultuurkalender pronk.
“Die FAK is vinnig uit die wegspringblokke en het reeds ’n hele paar projekte en erfenisavonture reg oor die land aangebied om ons moedertaal te vier,” sê Müller.
“Die FAK was in Mei deel van die Solidariteit Beweging se unieke Afrikaanse Letterprojek waar reuseletters wat die woord ‘Afrikaans’ spel, letterlik op toer deur die land gaan. Die FAK het die voorreg gehad om die ‘F’ in Afrikaans kleurvol en kreatief te versier om die organisasie in al sy fasette uit te beeld.” Hierdie letters gaan vanaf einde Mei by die Voortrekkermonument pronk vir die res van die jaar.
Die FAK het ook onlangs die Skryf’it-liedjieskryfkompetisie in samewerking met Vonk Musiek bekendgestel en saam met die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria ’n insiggewende Afrikaanse seëluitstalling in die Voortrekkermonument aangebied. Daar is egter nog baie projekte om na uit te sien, vertel hy.
“Die FAK het hande gevat met Spoetnik, die ontwikkelaars van bekende bordspeletjies soos Boereplaas, Die Groot Trek-bordspeletjie, Tydtoer en vele ander, om vanjaar ’n bordspeletjie te ontwikkel wat Afrikaans in al haar glorie vier.
“Die Afrikaans 100-bordspeletjie toets spelers se kennis oor Afrikaanse poësie, musiek, idiome, spelling en nog baie meer, en beloof hope pret vir oud en jonk. Hierdie speletjie word in Augustus amptelik bekendgestel.”
In Augustus 2024 het die FAK vir die eerste keer die Taallimpiese Spele bekendgestel en vanjaar word dié spele reg deur die jaar by verskeie skole aangebied.
Volgens Müller was die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) 150 jaar gelede ’n groot mylpaal in die ontwikkeling van die Afrikaanse taal en daarom bied die FAK van 9 tot 14 Augustus ’n weeklange fees aan om dié historiese gebeurtenis te vier.
Waarna jy kan uitsien tydens die GRA 150-week:
- 9 Augustus – FAK Liedjiefees en Saamsingkuier
- 10 Augustus – Afrikaanse kosbuffet
- 10 Augustus – “Winternag”- musikale opvoering
- 12 Augustus – FAK Prestige-oggendtee en oorhandiging van toekennings
- 14 Augustus – Afrikaanse konferensie
- 14 Augustus – Taallimpiese Spele by die Voortrekkermonument
- 14 Augustus – Dr. Danie Langner boekbekendstelling
Die FAK woeker behoorlik in Afrikaans en ons nooi oud en jonk om in die pret te deel. Word ’n vriend van die FAK en kry al die opwindende nuus en gebeure in jou e-posmandjie. Volg die skakel om ’n vriend te word: https://sluit-aan.fak.org.za/