fbpx
Op 8 Mei 2025 vier Afrikaans sy honderdjarige bestaan as amptelike taal. ’n Wye en verteenwoordigende groep Afrikaanse organisasies, onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), stuur ’n veldtog van stapel om dit te vier. Dit is ’n gekoördineerde poging wat talle feeste op alle vlakke van die samelewing deur die hele land gaan hou, met ‘n nasionale geleentheid op 8 Mei 2025 by die ATM in die Paarl.

MANIFES

Die manifes verteenwoordig die raamwerk waarbinne die feesveldtog gehou gaan word. Indien enige gemeenskap, organisasie of persoon daarmee saamstem en teken, sal só ’n organisasie die amptelike logo van die Afrikaans 100-veldtog kan gebruik, onder andere om plaaslik fondse te werf.

Visie en Missie

‘n Inklusiewe feesjaar wat alle Afrikaanssprekendes gelyke geleentheid bied om deel te word van die fees en die belangrikheid van elke Afrikaanssprekende se rol in die voortbestaan van Afrikaans uit te lig.

Ons is ten doel om meer as 1 000 Afrikaanse organisasies, onderwysinstansies, gemeenskapsgroepe, besighede en individue feesdeelnemers te maak deur hulle die manifes te laat teken en dat elk op hul unieke manier hierdie Afrikaanse mylpaal vier in die voorloop, tydens die fees en/of in die afloop van die feesjaar.

DIE OORSIGKOMITEE

Die oorsigkomitee van Afrikaans 100, met Theuns Eloff (Voorsitter: Dagbreektrust) as voorsitter en Michael Jonas (Direkteur: Afrikaanse Taalmuseum- en Monument, Paarl) as ondervoorsitter, aan die stuur, is vroeër vanjaar gevestig. Ander persone op die komitee is Astrid de Vos, Diana Ferrus, Werner Human, Susan Lombaard, Karen Meiring, Sinki Mlambo, Hendrik Theys, Merlyn van der Rheede en Heindrich Wyngaard met Conrad Steenkamp en Ria Olivier as die sekretariaat.

Giep van Zyl, voormalige hoof van Aardklop, is onlangs aangestel as die Nasionale Koördineerder, met René Arendse, ’n bekende motiveringspreker en opleier van veral vroue-entrepreneurs, wat as Nasionale Adjunk-koördineerder aangestel is.

Daar is verder ook ’n span kundiges wat as domeinsameroepers met die reëlings gaan help. Onder hulle is kenners in die onderwys, die kunste, studentelewe, die sakesektor, die uitgewersbedryf en die media.

Wie het reeds opgeteken?

Talle organisasies, gemeenskappe en persone is reeds betrokke en het die manifes onderteken. Gaan kyk gerus wie almal aan die plesierigheid gaan deelneem.

Raak betrokke

1 000 Afrikaanse organisasies, onderwysinstansies, gemeenskapsgroepe, besighede en individue wat Afrikaans se honderdjarige bestaan as amptelike taal vier, kan net feestelik wees! Raak betrokke deur die manifes te teken en vier hierdie Afrikaanse mylpaal op jou, jou gemeenskap of jou organisasie se unieke manier.

Kontak ons

Vir navrae of net om te gesels, kontak ons gerus.