fbpx

Wen R50 000 vir jou skool

Die Afrikaans 100-skoleprojek bemagtig skoolgemeenskappe landwyd om Afrikaans as ʼn diverse taal met ʼn diverse herkoms te beleef wat deur mense van alle rasse, etniese en kultuurgroepe gepraat word. Hierdie projek illustreer dat Afrikaans ʼn inklusiewe en vriendelike taal is en dat die bemagtiging van skoolgemeenskappe ʼn volhoubare impak binne die voortbestaan van ons taal kan maak. Die bemagtiging van skoolgemeenskappe wys dat Afrikaans ons almal gemeenskaplik Suid-Afrikaans maak, dat Afrikaans brûe kan bou en dat ons toekomsgeslagte sonder stigma die taal kan aanneem as ʼn inheemse Afrikataal.

Die kompetisiedoel

Om moedertaal- en addisioneletaalsprekers van alle grade die geleentheid te gee om saam te praat in Afrikaans, saam te luister in Afrikaans, saam te skep in Afrikaans, saam te staan en saam op te bou in Afrikaans.

Registrasie

Kompetisieregistrasie begin op 1 Maart 2025 en sluit op 30 April 2025. ALLE deelnemende skole sal in die Afrikaans 100-eeufeesjaarboek opgeneem word. Maak dus seker dat jy ons voor 30 April 2025 laat weet of jou skool graag aan dié kompetisie wil deelneem.

Wie kan inskryf?

Enige kleuter-, publieke, privaat- of aanlyn skool kan in een van die volgende kategorieë inskryf:

Enkelmedium Afrikaans:
Groot skool
Meer as 600 leerders
R25 000 prysgeld

Enkelmedium Afrikaans:
Klein skool
Minder as 600 leerders
R25 000 prysgeld

Addisioneletaalsprekers/ Dubbelmedium skool:
Groot skool
Meer as 600 leerders
R25 000 prysgeld

Addisioneletaalsprekers/ Dubbelmedium skool:
Klein skool
Minder as 600 leerders
R25 000 prysgeld

Prysgeld vir die Skool van die jaar vir 2025 beloop R50 000!

Kriteria

Punte word soos volg toegeken:
1. Mees kreatiewe viering van Afrikaans in enige of al sy variëteite;
2. Grootste impak op bevordering van lees; en
3. Pret in die klaskamer.

Hoe werk die kompetisie?

Die kompetisie bestaan uit TWEE rondes:
Ronde een – Begin op 1 Mei 2025 en inskrywings sluit op 31 Mei 2025.
Ronde twee
 – Begin op 1 Mei 2025 en inskrywings sluit op 30 September 2025
Die top-10
 skole word op Wêreld Onderwysersdag, 5 Oktober 2025, aangekondig.
WENSKOLE
 word op 18 Oktober 2025 aangekondig.

EERSTE RONDE:

“Ons vier Afrikaans, ons Afrikataal!” 

Op 8 Mei 2025 word Afrikaans as amptelike landstaal een honderd jaar oud. Wys hoe julle skool Afrikaans se eeufees tussen 8 – 31 Mei 2025 gaan vier.

Inskrywings moet in die vorm van foto’s en video’s op die deelnemende skool se Facebook-blad gedeel word. Maak seker dat Afrikaans 100 se Facebook-blad in jou inskrywing genoem word sodat ons die inskrywing kan raaksien.

Voeg die hutsmerk by jou inskrywing: #afrikaans100skole

Om te verseker dat ons nie julle inskrywing misloop nie, stuur voor of op 31 Mei 2025 die sosialemediaskakels met inskrywings na info@afrikaans100.org

Skole kan enige getal inskrywings tussen 8 – 31 Mei 2025 indien.

TWEEDE RONDE:

“Dis lekker om te lees!”

Hoe bevorder julle skool leerders se liefde vir lees? Hoe help julle leerders wat sukkel met leesuitdagings? Hoe bemagtig julle onderwysers om lees in die klaskamer te bevorder? Hoe maak julle die lees van Afrikaans pret in die klaskamer?

Inskrywings: Die skool se “Dis lekker om te lees”-programplan vir 2025 moet in ʼn MS Word- of PDF-dokument voor of op 30 September 2025 na info@afrikaans100.org gestuur word. Sluit op hierdie programplan inligting in soos watter grade of ouderdomme betrek word en hoe julle die plan implementeer.

Saam met hierdie programplan moet die skakels na sosialemediaplasings wees met foto’s en/of video’s wat wys hoe hierdie program geïmplementeer is.

RegistrasieVorm