Meer oor afrikaans 100
ʼn Wye en verteenwoordigende groep Afrikaanse organisasies, onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Afrikaanse Taalmuseum en -Monument (ATM), stuur ʼn veldtog van stapel om Afrikaans se eeufees te vier.
Dit is ʼn gekoördineerde poging van medewerkers en ondersteuners om ʼn inklusiewe feesjaar te vier wat Afrikaans in al haar variëteite, geure en kleure bymekaarbring en die belangrikheid van elke Afrikaanssprekende se rol in die voortbestaan van Afrikaans uit te lig.
Die inisiatief het die volgende doelstellings om hierdie mylpaal te gedenk:
- Ons vier die bestaan van Afrikaans as amptelike landstaal as ʼn mylpaal binne haar baie langer bestaan, as ʼn groep mense wat lief is vir die taal.
- Ons ondersteun Afrikaans as ʼn inklusiewe taal met ʼn diverse herkoms wat deur mense van alle rasse, etniese en kultuurgroepe gepraat en gebruik word.
- Ons verbind onsself tot die groei van Afrikaans en gee trots erkenning aan die bydrae wat dit tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap maak sonder om in politiek betrokke te raak.
- Ons vier die bydraes wat Afrikaans op talle gebiede maak, soos die kunste, literatuur, onderwys, musiek en akademiese navorsing (om maar ʼn paar te noem).
Kom vier, ondersteun, erken en bou saam met ons, want lank sal sy lewe!
Raak betrokke
Raak betrokke en vier hierdie Afrikaanse mylpaal op jou, jou gemeenskap of jou organisasie se unieke manier.