MANIFES
- Ons vier met dankbaarheid en vreugde die bestaan van Afrikaans as amptelike landstaal oor die afgelope 100 jaar.
- Ons doen dit as ’n groep mense wat almal lief is vir Afrikaans en belangstel in die Afrikaanse leefwêreld: Afrikaanse organisasies en instellings, skole, die media, asook tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans.
- Ons erken die feit dat Afrikaans ’n diverse taal is met ’n diverse herkoms en dat dit deur mense van alle rasse, etniese en kultuurgroepe gepraat en gebruik word. Ons beskou dit ook as ’n inklusiewe en vriendelike taal en daarom sal ons dit verwelkom as die feesveldtog deur soveel as moontlik mense, gemeenskappe en organisasies ondersteun en gevier sal word.
- Ons is daarvan oortuig dat Afrikaans toekomsgerig is en bly groei; daarom vier ons Afrikaans se konstruktiewe bydraes tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap, en moedig ons gesprek aan.
- Deur hierdie feesveldtog wil ons ’n gekoördineerde poging aanwend om die mylpaal van een honderd jaar met positiewe sentimente te vier en die waarde van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse gemeenskap ten toon te stel.
- Tydens hierdie feesveldtog sal ons graag wil sien dat Afrikaans se bydraes op talle gebiede gevier word, soos die kunste, literatuur, drama, poësie, onderwys, musiek (lig en klassiek), akademiese navorsing en woordeboeke (om maar ’n paar te noem). Daarom nooi ons alle organisasies om hieraan deel te neem.
- Almal wat belangstel om hierdie groot mylpaal van Afrikaans te vier, kry toegang tot ’n eenvormige, positiewe feesveldtog en -identiteit in die vorm van ’n logo wat saam met die instansie se eie korporatiewe identiteit gebruik kan word.
Teken
Indien jy of jou gemeenskap en organisasie hiermee saamstem, vul asb hierdie vorm in. Die vorm word gestuur aan die Afrikaanse Taalraad, wat as sekretariaat optree. Neem kennis dat slegs ‘n individu, gemeenskap of burgerlike organisasie die manifes kan onderteken.”
Kontak ons
Vir navrae, meer inligting voor jy teken, of net om te gesels, kontak ons gerus.