fbpx

Erfenisdag: Wat vier ons?

Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is erfenis onder meer ’n erflating, ’n geskenk en ’n nalatenskap. Dis ’n dag waarop alle Suid-Afrikaners, maak nie saak of hulle komvandaan verskil nie, die land in al haar prag en praal kan vier.

Die dag waarop Erfenisdag sedert 1995 gevier word, 24 September, se oorsprong lê in die Zoeloe-geskiedenis. Dit was eens bekend as Shakadag aangesien dié Zoeloe-leier op 24 September 1828 gesterf het.

Ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing, is verskeie dae op die kalender gesit wat gedenk moet word en sedert 1995 word Erfenisdag op 24 September gevier. Dit is ’n dag vir uitreik, vir verby ons verskille kyk en besef dat ons wortels dalk anders geplant is, maar dat ons tog soveel gemeen het.

Taal is onlosmaaklik deel van erfenis. As die derde grootste taal in die land, is Afrikaans ’n taal met woorde wat alle Suid-Afrikaners gebruik. Ja, woorde wat kwes soos apartheid, maar ook woorde soos eina, lekker, skinder, voetsek, hoezit en jislaaik. Braai en sy maat braaibroodjie. Babelas, boerewors en boerierol, my bra en my boet, ouma en oupa. Dop, bakkie en trokkie, biltong, antie, bakgat en bliksem. En as mens die koevert nog so bietjie verder kan stoot: is daar ’n taal wat so lekker kan swets soos Afrikaans? Staan enige plek in die wêreld en skreeu “bokbef*k!” en ’n kop of twee gaan soos ’n meerkat s’n draai om te kyk waar dit vandaan kom.

Ja-nee, Afrikaans het sy kant gebring wanneer dit by die Suid-Afrikaanse woordeskat kom.

Erfenis omskryf dit wat ons geërf het. Van ons land tot ons geskiedenis, ons natuurskoon tot ons verskeie ryk kulture. Ons ooreenkomste en ook ons verskille. As daar een ding is wat raakgesien kan word tussen al die geraas, is dat ons soveel meer het wat ons bind as wat ons uitmekaar hou.

Daar is soveel suksesstories wanneer dit by nasiebou kom. Suid-Afrikaners is soos menige familie – ons kan dalk van mekaar sê wat ons wil, maar waag dit net om as ’n buitestander een van ons eie aan te vat! Wanneer Suid-Afrikaners wen, of dit nou op die rugbyveld, by ’n skaapskeerkompetisie of die Oscars is, is ons één.

Op Suid-Afrika se landswapen is die leuse !ke e: /xarra //ke, geskryf in die Khoisan-taal van die /Xam-mense. Die woorde beteken verskeie mense verenig, of dan eenheid in diversiteit. Praat jy met Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon en vra wat hulle die meeste van hul moederland mis, is die antwoord amper altyd: die mense.

Taal kan soms ’n hindernis tussen Suid-Afrikaners wees, maar met ’n glimlag en ’n lekker, ’n hoezit en ’n bakgat kan ons ver kom.