fbpx

Afrikaans is ons

Afrikaans is onlosmaaklik deel van Suid-Afrika. Maak nie saak watter een van die land se twaalf amptelike tale jy praat nie – iewers is Afrikaans deel daarvan.

Aitsa, eina, laaitie en lekker. Braai, biltong, pap en wors. Babelaas, haibo, ghoema en yebo. Sêgoed en leenwoorde wat eie aan Afrikaans is en wyd gebruik word. Awê!

Waar jou wortels geplant is of waar jy hulle gaan herplant het, en of jy in die buiteland reis of in ’n ander provinsie kuier, iewers gaan jy iemand hoor Afrikaans praat.

Taal maak emosies wakker wat jou laat huistoe verlang na die geur van moerkoffie en varsgebakte melktert. Wanneer jy smag na die naghemel in die Karoo of die golwe van Bloubergstrand. Afrikaans is snoek en patat. Afrikaans is die dans van ’n riel of ’n tiekiedraai uit pure plesier. Afrikaans is almal s’n wat haar praat. Of dit jou moedertaal, jou eerste of selfs derde taal is, dit joune. Ja, Afrikaans is ons en ons is Afrikaans.

Op 8 Mei 2025 vier Afrikaans Amptelik 100 ’n mylpaal in die lang en kleurryke geskiedenis van ons taal: die eeufees van Afrikaans as amptelike taal. Voor 1925 was daar reeds die geboorte van ’n taal met wortels van die Kaap tot in Griekwaland, van Arabies tot Nederlands. Selfs ná 1925 het die taal bly groei en die huis soveel meer kamers gekry waar almal welkom is.

Hoe gaan hierdie eeufees-mylpaal van Afrikaans gevier word?

  • Afrikaans Amptelik 100 beplan ’n groot makietie en almal is genooi. Dis die eerste van sy soort en jy kan dit nie misloop nie!
  • Waarna kan jy uitsien? Musiekkonserte, ’n voedsel- en wynfees en gedenklesings net om ’n paar te noem.
  • Van 8 tot 11 Mei 2025 skop die groot vieringe in die Wes-Kaap af met ’n feesprogram oor drie dae in die Bo-Kaap, Genadendal en by die Taalmonument in die Paarl. Ja, drie dae, drie feeste op drie plekke.
  • Van 22 tot 25 Mei 2025 neem ons die vieringe na Gauteng waar ons in Pretoria gaan fees vir nog drie dae.
  • Vir die res van ons eeufeesjaar gaan daar teaterproduksies, koorwerke en seminare onder die Afrikaans 100-vaandel landwyd opgevoer en gehou word om sodoende die kleurryke laslappietaal se diversiteit saam met sy sprekers te vier.

Afrikaans Amptelik 100 se eeufeesjaar gaan egter oor meer as net partytjie hou. Impakprojekte saam met vennote en medewerkers sal verseker dat ons ’n nalatenskap agterlaat van ’n taal wat vriendelik, volhoubaar en toeganklik is.

Teken vandag nog in op ons nuusbrief om die volledige programinhoud te ontvang.

Is jy betrokke by ’n skool, organisasie, besigheid of klub, en wil graag julle eie viering in die feesmaand tussen 8 tot 31 Mei 2025 aanbied? Laat weet ons by info@afrikaans100.org en ontvang ’n amptelike partytjiepakket met idees en grafiese ontwerpe wat digitaal afgelaai kan word. Julle eie logo sal op ons webblad gelaai word, julle foto’s word deel van die Afrikaans Eeufees-jaarboek en jou naam is in die gelukkige trekking en ’n kans om R10 000 te wen. Die wenners sal in Junie 2025 aangekondig word.

So kom ons dala wat jy moet vir ons taal wat hier is om te bly!