Dít is inderdaad wat tot en met 8 Mei 2025 gaan gebeur wanneer Afrikaans in al haar skakerings gevier gaan word.
Verlede jaar reeds is aangekondig dat Afrikaanse organisasies, instansies, maatskappye, skole of enigiemand wat Afrikaans as inheemse taal koester, genooi word om betrokke te raak by Afrikaans 100 se feesvieringe.
Ja, Afrikaans het reeds in 1595 begin wortel skiet met die taal se oorsprong uit Europa, Afrika en die Ooste, maar dit was eers op 8 Mei 1925 toe die Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika, Wet 8 van 1925, deur die destydse volksraad aanvaar is en waarvolgens Afrikaans, naas Engels, ’n amptelike taal van Suid-Afrika geword het.
Die oorsigkomitee van Afrikaans 100, met Theuns Eloff (Voorsitter: Dagbreektrust) as voorsitter en Michael Jonas (Direkteur: Afrikaanse Taalmuseum- en Monument, Paarl) as ondervoorsitter, aan die stuur, is vroeër vanjaar gevestig. Ander persone op die komitee is Astrid de Vos, Diana Ferrus, Werner Human, Susan Lombaard, Karen Meiring, Sinki Mlambo, Hendrik Theys, Merlyn van der Rheede en Heindrich Wyngaard met Conrad Steenkamp en Ria Olivier as die sekretariaat.
Giep van Zyl, voormalige hoof van Aardklop, is onlangs aangestel as die Nasionale Koördineerder, met René Arendse, ’n bekende motiveringspreker en opleier van veral vroue-entrepreneurs, wat as Nasionale Adjunk-koördineerder aangestel is.
Daar is verder ook ’n span kundiges wat as domeinsameroepers met die reëlings gaan help. Onder hulle is kenners in die onderwys, die kunste, studentelewe, die sakesektor, die uitgewersbedryf en die media.
Tot en met 8 Mei 2025, wanneer die vieringe ’n hoogtepunt bereik met ’n geleentheid by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl, gaan daar Afrikaans geleef, gedeel en gevier word. ’n Wonderskone, kreatiewe, veeldoelige, wydstrekkende taal soos Afrikaans verdien immers ’n viering der vieringe – vir almal wat haar praat en leef.