Jana se reis met woorde
Lees. Koop vir jou kind boeke. Dink voor jy praat. Lees wat jy skryf. Leer spel. Maak en hou jou beursie oop vir Afrikaans. Só meen Jana Luther, ’n leksikograaf en mederedakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT), kan ons Afrikaans lewend hou.
Hoekom is woorde so fassinerend?
Elke woord wat ons (aan)leer, wat ons ken, maak ’n venster op die wêreld oop, dikwels meer as een. Woorde, wat ons op oneindige maniere in sinne kan saamvoeg, sinne, wat ons op oneindige maniere in patrone kan rangskik, open wêrelde, en dit is WOW! Soos die Universiteit Stellenbosch se bemagtigingsprojek met dié naam lank reeds getuig.
Wat maak Afrikaans so ’n opwindende taal?
Niks op sigself nie. Wat opwindend – méér as opwindend: fassinerend, verbysterend, ontsagwekkend, verstommend – is, is dat ek en jy gebore is, mensekinders gebore word, met die bloudruk, die kognitiewe vermoë om spontaan, moeiteloos, die eerste taal (of tale) waarmee ons in aanraking kom, aan te leer, te verwerk, te (re)produseer. Danksy taal is ons nooit alleen nie. Via taal, gesprekke, lees, skryf, kry ons toegang tot mekaar se gedagtes, idees, selfs dié van mense wat lank voor ons geleef het, lankal dood is. Heeltyd kombineer en omvorm ons mekaar se gedagtes en idees tot nuwe gedagtes en idees.
In my brein, skaars groter, swaarder as ’n liter melk, word 86 miljard (86 000 000 000) neurone deur biljoene sinapse verbind. Die potensiaal om hulle moedertaal te bemeester, om taal as ’n bemagtigende instrument te gebruik, is by meeste kinders onbeperk. In Afrikaans, omdat Afrikaans my moedertaal is – deel van my DNS, so voel dit – kan ek elke moontlike denkproses uitvoer: dink, droom, wonder, spekuleer, redeneer, leer, fantaseer … Deur gedigte, verhale – ook liegstories – skep ons vir ons self, vir ander, vir mekaar, deesdae selfs deur middel van kunsmatige intelligensie, wêrelde sonder grense, beide wonderlik en verskriklik, wêrelde wat alleen in taal bestaan. Dit maak ons anders as enige ander lewende wese waarvan ons weet.
Wat het Afrikaans wat ander tale nie het nie?
Sy eie leksikon, sy eie woordeskat en grammatika, sy eie idioom, sy eie manier van dinge sê, uitdrukkings, segswyses, sinswendinge, wat van dié van ander tale verskil.
Waar sien jy die taal in ’n 100 jaar? Gaan dit nog bestaan?
In Ethnologue (https://www.ethnologue.com/language/afr/), ’n databasis waarin inligting oor al die tale van die wêreld versamel word, word tussen institusionele, stabiele, bedreigde en uitgestorwe tale onderskei. Wat bedreiging betref, onderskei Unesco se Wêreldatlas van Tale (wals.info) vyf vlakke: kwesbaar, definitief bedreig, ernstig bedreig, kritiek bedreig en uitgestorwe. Volgens hierdie skale is Afrikaans nie ’n bedreigde taal nie. Wel al hoe minder institusioneel, al hoe meer kwesbaar. Gaan Afrikaans in 2124 nog bestaan? As die wêreld soos ons dit ken, nog bestaan: Ja. Hoe gaan Afrikaans oor 100 jaar van nou af klink, lyk? Dit sal bepaal word deur die normale verloop van taalverandering in ’n meertalige land waar Engels die botoon voer (elke taal, alle tale verander voortdurend), maar ook deur houdings en gesindhede jeens Afrikaans, nou en in die toekoms. Hoe ons van nou tot dan met Afrikaans en met mekaar gaan omgaan.
Watter projekte in Afrikaans maak jou opgewonde?
Projekte wat daarop afgestem is om geletterdheid te verbeter en te bevorder: voorskools, oor al die fases van skoolopleiding heen, ook daarna, beginnende by die moedertaal en moedertaalonderrig. Projekte wat in en vir Afrikaans – in ál sy verskillende variëteite – nuwe, oorspronklike inhoud skep. Navorsingsprojekte wat met die praktyk en onmiddellike taalwerklikheid in voeling bly.
Wat is jou gunsteling- vyf boeke in Afrikaans?
Abraham de Vries se Afrikaanse Kortverhaalboek en Sonja Loots en Steward van Wyk se Nuwe Afrikaanse Prosaboek. Die Opperman- en Brink-uitgawes van Groot Verseboek. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Eens die Afrikaanse Kinderensiklopedie-reeks.
En jou vyf gunstelingwoorde?
Die regte woord op die regte tyd. Dit wissel van dag tot dag, oomblik tot oomblik. Om uit al Afrikaans se woorde net vyf te kies, is werklik onmoontlik.
Watter foute wat in Afrikaans gemaak word, krap die meeste aan jou?
Ek is meer op die belewing en belewenis van taal ingestel as op foute, oop om gefassineer en verras te word. Baie muggiesif-“foute” ís geen foute nie. Party kom al millennia ver. Ander dui gewoon daarop dat Afrikaans, as lewende taal tussen ander lewende tale, lewenskragtig is en verander. Oordrewe vitterigheid doen Afrikaans geen guns nie. ’n Taal wat nie verander nie, is’n dooie taal. Twee “foute” op groter skaal, egter, wat my hartseer stem, is 1) wanneer Afrikaanse note by moedertaalsprekers vals opklink, duidelik weens luiheid en onbruik, en 2), des te meer, wanneer ek sulke vals note gewaar by mense wat professioneel met Afrikaans werk (skrywers, joernaliste, vertalers, teksredakteurs, proeflesers), wat as taalwerkers opgelei is, of wat hulle uitgee vir taalwerkers, en wat vir hulle werk betaal word. (Met aan die ander kant, natuurlik, te dikwels, ook dié wat gehalte verwag, maar nie bereid is om twee sente vir Afrikaans van gehalte te betaal nie; dit verniet wil hê. En dan ook nie altyd, self meer, die gehalte kan beoordeel van wat aan hulle opgedis word nie.) Nou ja. Alles van waarde is weerloos.
Wat is die drie woorde wat eens op ’n tyd gebruik is, maar nie meer gebruik word nie, wat jy dink ’n terugkeer moet maak?
Weer: Te veel om te kan kies. Wat van mikstuur? ’n Mengsel van twee of meer bestanddele. Afrikaans is ’n mikstuur van baie tale met vele variëteite. (Die oorspronklike mikstuur is ’n orrelregister gekenmerk deur twee of meer pype vir elke toets.) Knuffel, om te vertroetel, in plaas van te karnuffel. Sagte speelgoed is knuffelspeelgoed. Laat ons sag wees met mekaar. Sikkepit. Heeltemal niks nie. Oor hoe jy Afrikaans praat, klink, het ek sikkepit te sê.
Wat sal jy graag onder jou Kersboom wil sien?
Hollandse stroopwafels.
Watter koswoorde laat jou mond water?
Kaneel, anys, koljander, gemmer, knoffel, neutmuskaat, kardamom, naeltjies, tamaryn, steranys …
Wat is die kinderboek wat jy oor en oor kon lees?
Mooiste kinderstories van die wêreld.
Wat moet gedoen word om Afrikaans te laat groei?
Lees. Lees vir jou kleine kind. Baie. Elke dag. Koop vir jou kind boeke. Gee vir kinders boeke present. Pen. Papier. Dink voor jy praat. Lees wat jy skryf. Leer spel. Maak, hou jou beursie oop vir Afrikaans.
Watter sportwoorde maak jou opgewonde?
Ek bestee min tyd aan sport. Tennis en tenniswoorde: draaihou, dryfhou, kaphou, veeghou, vlughou, mokerhou, kishou.
Wat is jou grootste droom vir Afrikaans?
Dat die ongeletterdheidskrisis omgekeer word. Ouers, voogde, Afrikaansonderwysers, vakadviseurs, ’n Afrikaanskurrikulum wat kinders van papegaaileer en lysies (intensiewe vorme, versamelname, noem op) bevry en elke kind so lank as moontlik in sy, haar moedertaal, huistaal, geborge hou om die vreugde en trots te ervaar van ’n unieke, eie byteltjie wat geslyp kan word tot dit blink.
- Jana Luther is ’n leksikograaf en teksredakteur wat in Afrikaans spesialiseer en tans (sedert 2019) as ’n mederedakteur aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT) verbonde is. Sy dien van 2013 af in die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie, wat vir die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) verantwoordelik is, en werk af en toe as fiksieredakteur en herskrywer vir verskillende uitgewers. Sy het studeer aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU): Afrikaans en Nederlands, Engels, Duits; het in 1991 ’n MA-graad met lof behaal en van Johannesburg na Kaapstad verhuis om as kinder- en jeugboekredakteur by Tafelberg Uitgewers te werk. Van 1996 tot 2006 is sy bedags woordeboekmaker by Pharos en saans en Sondae gereeld nasienredakteur in die nagkantoor van Die Burger. Ná agt maande as teksredakteur by Huisgenoot is sy van 2007 tot 2017 voltyds redakteur van die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6); daarna twee jaar by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). Toe die uitgewer Pearson SA bevestig dat werk aan die HAT nie voortgaan nie, begin sy in 2020, in haar vrye tyd, die Woordeboek van Afrikaans Vandag (WAV). By afrikaans-vandag.co.za versamel sy nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat nog nie in ander woordeboeke staan nie. Die WAV word van tyd tot tyd in PharosAanlyn bygewerk. Sedert 2018 skryf sy ’n tweeweeklikse taalrubriek (Woordewisseling) vir Beeld, Die Burger en Netwerk24.
Lees Afrikaans Vandag hier: https://afrikaans-vandag.co.za